JOB 33:14-19 AFR53
14. WANT God spreek op een, ja, op twee maniere; maar die mens let daar nie op nie.
15. In die droom, in 'n naggesig, as diepe slaap op die mense val, tydens sluimeringe op die bed,
16. dan open Hy die oor van die mense, en Hy druk die seël op die waarskuwing aan hulle;
17. om die mens terug te hou van sy onderneming en trotsheid vir die man te verberg;
18. sodat Hy sy siel kan red uit die kuil; en sy lewe, dat dit nie omkom deur die spies nie.
19. OOK word hy getugtig met smart op sy bed en aanhoudende stryd in sy gebeente,
***
Kern gedeelte:
"maar die mens let daar nie op nie"
Hoeveel keer in ons lewe het GOD deur Sy Heilige Gees met ons gepraat, die seël van waarskuwing op ons gedruk, maar ons het nie daarop nie gelet nie, nie geluister nie.
As ons vanoggend sê dat ons geen waarskuwing ervaar, of nie GOD se stem hoor nie, dan is dit omdat ons nie ingestel is op die inwerking van die Heilige Gees nie, ons bid nie en vra vir GOD se Wysheid, Insig en Leiding nie.
Ons volg ons eie kop, jaag ons dit na wat deur ons eie begeertes gedryf word, maar as dit skeefloop, is dit GOD se skuld.
Nee, dit was ons keuse, neem verantwoordelikheid vir jou besluite, leer iets daaruit.
As jy GOD se Leiding soek, beweeg nader aan Hom, spandeer tyd in Sy Woord, bid en vas, en die sluier sal ook vir jou gelig word.
-------
GEBED.
VADER, ons maak soveel foute omdat ons nie luister nie. Ons dwaal want ons volg ons eie kop. Maar as dinge skeefloop wil ons terughardloop na die spaarwiel GOD toe. Gee asb aan ons die krag, deursetting vermoë, wysheid, insig en geduld om U in alles te ken, en dat ons kan wag vir die antwoord wat U ons sal gee.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir die geduld om op U antwoord te wag, voor ons beweeg.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
Sel: +27716283107






