ROMEINE 8:26-28 AFR53
26. En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.
27. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.
28. En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.
***
Kern gedeelte:
"dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk"
Ons is wel in die wêreld, maar ons is nie van die wêreld nie, daarom sal ons die probleme en teëspoed van die wêreld ervaar.
Ons kan egter kies of ons die probleme gaan beheer deur ons geloof in GOD, deur te luister na die leiding van die Heilige Gees en in gehoorsaamheid aan GOD se opdragte en uitkomste te beweeg.
Of kan ons toelaat om deur die probleme oorheers te word, waar ons in vrees rondskarrel, na grashalms gryp en op die arm van die vlees probeer steun.
Moenie vanoggend rondgeslinger word deur omstandighede nie, maar laat ons voor GOD buig in gebed, want daar sal ons, ons standvastigheid vind.
Nie omdat ons goed is nie, maar omdat GOD groot is!
-------
GEBED.
VADER, dikwels gaan dit moeilik en ons sien nie die uitkoms wat U beplan, die pad wat U vir ons uitgelê het nie. Ons word deur vrees verblind, en paniek neem ons logiese denke oor. Laat ons asb vandag berus in die situasie waarin ons tans is en laat U Heilige Gees ons op die pad begin lei waar alles ten goede sal meewerk vir die wat U liefhet.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir kalmte in ons gemoed, standvastigheid in ons hart.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
Sel: +27716283107






