ROMEINE 4:19-20 AFR53

March 13, 2026

19. En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie.

20. En hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee


***


Kern gedeelte: 

"hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee"


Waar jy jou vanoggend bevind, glo jy daadwerklik nog in GOD se belofte, of begin jy twyfel as jy na die omstandighede rondom jou kyk?

Abraham het nie getwyfel nie, maar aan GOD die eer gegee.

So ook wil ek vandag vir jou sê, laat ons nie twyfel nie, laat ons GOD dank en Hom die eer gee vir dit wat oppad is, te midde van twyfel en chaos.

As GOD gesê het hy sal ons omstandighede, ons land en ons lewens verander, glo daarin, loof, prys en dank Hom daarvoor.

Sit net vir 'n oomblik stil en kyk rondom jou hoe die winde van verandering reeds begin waai.

Staan op, dank GOD, gee aan Hom die eer want sy jare lange beloftes is oppad. 

Bo alle twyfel, weet net dit:

GOD is 'n waarmaker van Sy Woord!

Wat GOD sê, sal so wees, en as GOD deure oopmaak gaan niemand dit toemaak nie.


 -------


GEBED.


VADER, dankie vir die bevestiging, vir die verandering wat besig is om te gebeur in ons gesinne, ons lewe en ons land. Dankie dat U vandag bevestig, dat U in beheer is, en te midde van alles sal U ons deurdra, en U sal ons land weer maak, 'n GOD vresende land, 'n land wat oorlop van melk en heuning.

In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat alles in U tyd sal gebeur, en dat ons nie in twyfel sal struikel nie.

Amen.


•••••••



Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za

Sel: +27716283107

March 12, 2026
13. Want Ek, die Here jou God, gryp jou regterhand aan, Ek wat vir jou sê: Wees nie bevrees nie, Ek help jou. 14. Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob, volkie Israel! Ék help jou, spreek die Here, en jou Losser is die Heilige van Israel. *** Kern gedeelte: "Wees nie bevrees nie, Ek help jou" Almal is in paniek oor die brandstof prys wat opgaan, die geweld in die midde ooste, die konflik wat aan die broei is in die wêreld. Maar hier is die vraag, wat kan ek en jy daaraan verander? In eerste oogopslag is die antwoord niks nie, maar as ons stil raak voor GOD, hierdie sake in gebed voor GOD bring, dan verander sake. Die oorlog in die wêreld sal miskien nie tot stilstand kom nie want hierdie dinge moet gebeur, maar die oorlog in jou gedagtes sal tot bedaring kom, want jy sal weet en ervaar, GOD is in beheer. Dan sal jy die berusting ervaar wanneer GOD vir ons sê: Want Ek, die HERE jou GOD, gryp jou regterhand aan, Ek wat vir jou sê: Wees nie bevrees nie, Ek help jou ------- GEBED. VADER, nie elke dag is dieselfde nie, soms gaan dit beter, maar dan kom daar dae wat ons voel dat ons alles te veel raak en ons is geestelik en ligaamlik uitgeput. Dit is wanneer ons vra dat U ons sal deurdra, die krag sal gee om elke uitdaging te oorkom. Dankie dat U in hierdie oggend vir ons bevestig dat ons nie moet vrees nie. Dankie vir U hulp en vir U hand van beskerming. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir elkeen wat oorweldig voel. Laat U Heilige Gees asb berusting bring. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
March 11, 2026
34. Toe het die wolk die tent van samekoms oordek, en die heerlikheid van die Here het die tabernakel vervul, 35. sodat Moses nie in die tent van samekoms kon ingaan nie, omdat die wolk daarop gerus en die heerlikheid van die HERE die tabernakel vervul het. *** Kern gedeelte: "en die heerlikheid van die HERE het die tabernakel vervul" Elke oggend wat ons wakker word, is 'n seëning uit GOD se hand, want ons het nog iets om te doen ter ere van Sy Naam. Daarom is dit bitter baie belangrik om jou hart oop te maak, skoon te maak sodat jy ook opnuut gevul kan word met die heerlikheid van JESUS CHRISTUS. Wanneer jy bekleed is met die outoriteit wat GOD jou beklee het, is daar nie arrogansie, maar die krag van GOD wat in jou is, werk ook deur jou. Dan brand die vuur in jou, dan skyn die Lig van JESUS CHRISTUS deur jou, en niemand kan dit van jou afneem nie. Staan op, laat jou vervul met GOD se Heilige Gees, en laat die mense weet, jy is nou maar een 'n geseënde van GOD. ------- GEBED.  VADER, in hierdie oggend is dit so duidelik dat die "verderwer" ons probeer vervul met die vrese van hierdie wêreld, maar U Woord sê dat ons oorwinaars is, en dat ons tot alles in staat is deur die krag wat U Seun ons gee. Gee ons asb die krag om ons harte skoon te maak, sodat ons met U Heilige vervul kan word. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir vir nuwe krag, terwyl ons op U wag, want in U is ons vertroue. Amen.
March 10, 2026
21. jy dan, wat 'n ander leer, leer jy jouself nie? Jy wat preek dat 'n mens nie mag steel nie, steel jy? 22. Jy wat sê dat 'n mens nie owerspel mag pleeg nie, pleeg jy owerspel? Jy wat 'n afsku van die afgode het, pleeg jy tempelroof? *** Kern gedeelte: Jy wat preek dat 'n mens nie mag steel nie, steel jy? Miskien is dit tyd dat ons eers voor ons eie deur vee, voordat ons ander op hulle foute wil wys en as ons eie huis nie in orde is nie, hoe wys ons 'n vinger na ander. Vanoggend wil ek dit openlik sê, pasop vir diegene wat met die Bybel onder die arm loop, maar met die duiwel waar hy nie moet wees nie. Dit is die persoon wat voorgee, dit is die persoon wat ander oordeel terwyl hulle self van die pad af is, self onder die tafel deurknoei, en ander mense van die pad af lei. Met die woord van GOD op hulle lippe sal hulle jou besteel en beswader. Deur voorgee lyk hulle soos wit geverfde grafte, maar van binne is hulle vol verrot. ------- GEBED. VADER, laat U Heilige Gees ons asb wys waar ons besig is om die pad byster te raak. Waar ons U nie in waarheid dien nie, maar 'n lewe van voorgee begin lewe. Ons is almal mens en ons maak foute, maar gee ons asb die wysheid om uit ons foute te leer sodat ons nie op U genade se rug sal ry nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat die ware kleure van mense in ons lewe te voorskyn sal kom. Amen.  ------- Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
March 9, 2026
10. En hy het vir my gesê: Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby. 11. Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word. 12. En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees. *** Kern gedeelte: "en wie vuil is, laat hom nog vuiler word" Dit is nie ons plig of ons werk om iemand se lewe vir hulle te lei nie. Nog minder moet ons 'n wrok dra, oor wat ander aan ons gedoen het, want slegs die persoon wat met onvergifnis in hulle hart rondloop word daardeur benadeel. Wanneer jy GOD se Woord aan iemand oorgedra het, hom voorgestel het aan die Evangelie van ons Verlosser, JESUS CHRISTUS, het jy jou deel gedoen. Woorde gaan nie verder help nie, elkeen van ons moes maar ons eie foute maak, ons kop aanhou stamp totdat ons begin luister het na die inwerking van die Heilige Gees, die aanraking van JESUS CHRISTUS, in ons lewe. Daarom sê die Woord: Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word. -------- GEBED. VADER, nie een van ons kan 'n vinger wys nie, en nie een van ons kan 'n ander oordeel nie, want daar was 'n tyd wat ons self ver van U verwyderd gelewe het. Ons bid vandag vir elkeen wat nog nie 'n ontmoeting met ons Verlosser gehad het nie, laat U Heilige Gees asb harte aanraak, verandering bring wat lei tot bekering. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat waar ons gaan, ons almal sal vertel van GOD se Liefde en die redding deur U Seun. Amen. ••••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
March 5, 2026
11. want ek verlang om julle te sien, om julle een of ander geestelike genadegawe mee te deel, sodat julle versterk kan word; 12. dit is, dat ek saam bemoedig kan word onder julle deur die gemeenskaplike geloof, van julle sowel as van my. *** Kern gedeelte: "dat ek saam bemoedig kan word onder julle" Ek ervaar meer en meer dat mense net vir hulleself leef, want as mense bymekaar kom, is dit nie dat hulle mekaar opbou nie, maar mekaar eerder vermy in die geselskap, of probeer afbreek. As dit die geselskap is waarin jy tans verkeer, is jou op die verkeerde plek, in die verkeerde geselskap. Wanneer jy gevul is met GOD se Heilige Gees sal jy woorde spreek wat stig, en nie woorde wat afbreek nie. Laat ons let op die woorde wat ons spreek, laat ons mekaar opbou, stig en versterk. Dan sal ons saam bemoedig kan word deur die gemeenskaplike geloof in GOD en die Evangelie van Sy Seun, JESUS CHRISTUS. Die wêreld hier buite het genoeg negatiewe te sê oor GOD se kinders, dat ons werklik nie nodig het om mekaar verder te ondermyn nie. ------- GEBED. VADER, in U kry ons die krag om mekaar te stig en op te bou, want ons weet dat een of ander tyd het almal hulp, ondersteuning, lyding en onderskraging nodig. Wanneer ons met mekaar spreek, laat ons opbou en nie afbreek nie, laat ons stig en nie verkleineer nie. Laat ons nooit op mekaar neerkyk nie, maar laat ons mekaar eerder ophelp as ons val. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U ons sal verwyder uit geselskappe waar ons nie moet wees nie. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
March 4, 2026
8. Laat my u goedertierenheid in die môre hoor, want op U vertrou ek; maak my bekend die pad wat ek moet gaan, want ek hef my siel op tot U. 9. Red my van my vyande, Here! By U skuil ek. 10. Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in 'n gelyk land. *** Kern gedeelte: "maak my bekend die pad wat ek moet gaan" Baie oggende wanneer ek reeds van half twee of twee uur op die pad is, het ek baie tyd om met GOD te praat, dit wat verby is te hersien, weer te deurdink en te leer uit my foute, te kyk waar ek nie aan GOD se leiding deur Sy Heilige Gees gehoorsaam was nie. Ook kyk mens na die prys van ongehoorsaamheid, die ompaaie wat ek dan moes stap. Wanneer jy tyd neem en GOD se plan in hersiening en oorweging neem, raak dit makliker om die struikelblokke raak te sien wat die "verderwer" in jou pad plaas. Dan word GOD se Woord 'n lamp vir jou voet en 'n lig vir jou pad. Een ding wat ek egter nie doen nie, is om my te bekommer oor die dag van môre nie, want die volgende keer wat GOD nie voorsien nie, sal die eerste keer wees. ------- GEBED. VADER, uit U hand kom ons leiding, voorsiening, beskerming en berusting. In hierdie oggend, te midde van alles, wil ons aan U die eer gee, ons wil U loof, prys en dank, U Naam groot maak. Leer ons om U welbehae te doen, want U is ons God. Laat U goeie Gees ons lei in 'n gelyk land. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat ons die goedheid van GOD sal raaksien in hierdie dag. Amen.  ••••••• Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
Meer Plasings