SPREUKE 24:30-34 AFR53
30. Ek het by die land van 'n lui man verbygeloop en langs die wingerd van 'n verstandelose mens,
31. en kyk, dit was heeltemal toegegroei van die dorings, sy oppervlakte was oordek met brandnekels en sy klipmuur omgegooi.
32. En ek het dit aanskou, ja, daarop gelet, gekyk, en lering aangeneem:
33. Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie hande-vou om uit te rus;
34. dan kom jou armoede aangeloop en jou gebrek soos 'n gewapende man.
***
Kern gedeelte:
"Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie hande-vou om uit te rus"
As die woorde hard is, deel asb daarmee, want die waarheid is nie altyd sag op die ore nie, maar dit bly steeds die waarheid.
Soveel mense in vandag se lewe is nie meer geskik om in diens geneem te word nie, want hulle glo dat hulle twee hande is nie gemaak om mee te werk nie, maar om mee te bedel en op ander se rug te ry.
Paulus maak dit duidelik in 2 Thessalonisense 3:10 dat as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.
Ja, daar is werklik nood in die wêreld en ons moet die hande uitreik na die wat dit nodig het, maar as die nood 'n gewoonte word, is dit nie meer nood nie maar misbruik.
Ek sê weer vir jou, soos wat jy moet werk, moet ander ook die hande uitsteek om te werk, om die las te verlig.
Moenie toelaat dat jou goedheid misbruik word nie, want NEE is ook 'n antwoord.
-------
GEBED.
VADER, gee asb aan ons die gees van onderskeiding sodat ons die waarheid kan sien vir wat dit is. Gee ons ook asb die krag om NEE te sê wanneer dit nodig is. Laat ons egter nooit ons harte toemaak vir ander om hulp te verleen waar die nood werklik druk nie. Leer ons asb om met oop hande deur die lewe te gaan, sodat ons sal help waar dit nodig is.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir leiding aangaande waar ons hulp moet verleen aan ander wat dit werklik nodig het.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
E-pos: fanie.le@tentvansamekoms.co.za
Sel: +27716283107





