SPREUKE 22:1-4 AFR53
1. 'n NAAM is verkiesliker as groot rykdom, guns beter as silwer en as goud.
2. Rykes en armes ontmoet mekaar, die Here het hulle almal gemaak.
3. 'n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf.
4. Die loon van nederigheid is die vrees van die Here, is rykdom en eer en die lewe.
***
Kern gedeelte:
"Die loon van nederigheid"
Hierdie is 'n moeilike boodskap om te verstaan as jy nog nie die pad saam met GOD gestap het nie, as jy nog nie deur die meule van die lewe was nie!
Eers wanneer jy in totale oorgawe staan, wanneer jy 'n tree terugneem en GOD toelaat om in jou lewe te beweeg, sake vir jou te verander, sien en verstaan ons die groter prentjie.
Waar begin die proses?
Die Woord van GOD verduidelik vir ons.
Verneder jou voor die HERE, en op die regte tyd sal Hy jou verhoog.
Wanneer ons nederig in gebed tot GOD nader, op HOM wag voor ons beweeg, sal die konflik van die wêreld ons nie meer aangaan nie en leer ons om alles in nederigheid te hanteer, en daardeur sal rykdom en eer en die lewe na ons toe kom en GOD se Goedheid en Guns sal jou volg al die dae van jou lewe.
-------
GEBED.
VADER, opnuut besef ek vanoggend hoe maklik ons van die pad afwyk, want arrogansie, die "eie ek" kruip soos 'n kanker terug in ons lewe in, en voor ons besef, staan ons trots in die wêreld en volg ons eie kop, en maak weer dieselfde foute wat ons baie duur te staan gaan kom. Laat U Heilige Gees ons asb herhinner daaraan om in elke situasie nederig voor U te staan.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U ons sal beskerm teen onself, sodat ons nie weer sal verval in die weë van die wêreld nie.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
Sel: +2772510404





