II PETRUS 3:8-9 AFR53

May 23, 2025

8. Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.

9. Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.


***


Kern gedeelte: 

"Die Here vertraag nie die belofte"


Net soos die belofte van die Wederkoms van JESUS CHRISTUS nie vertraag word nie, word sekere dinge in ons lewe ook nie vertraag nie.

Alles onder die son het sy bepaalde tyd, en as ons voor die tyd swak besluite maak, is GOD nie verantwoordelik vir die nagevolg nie.

Dit was ons keuse!

Moenie dat jou ongeduld jou tot struikeling bring nie.

Ek het bitter min, in GOD, geduldige mense teëgekom wat kon wag op GOD se belofte, en wat binne GOD se Wil kon bly beweeg.

Hulle het die vrugte daarvan gepluk, want GOD is nooit laat nie.

Jy is geplaas waar jy is vir 'n tyd, en jy moet doen wat jy moet doen vir 'n tyd, en laat die res aan ons Skepper oor, Hy is nooit laat nie, en as daar 'n vertraging is, is dit vir 'n rede.


-------


GEBED.


VADER, dankie vir die vertraging wat ons tans ervaar, want as ons mooi daaroor dink, is dit nie tot ons straf nie, maar juis om ons te beskerm. As sekere sake vroeër afgehandel was sou dit tot ons nadeel wees, en daarom hou U sekere mense vir eers uit ons lewe en vertraag U finansies of genesing vir 'n rede. Dankie dat ons besef, dat ons eers dit wat U tans aan ons toevertrou het onder die knieg moet kry, voordat U meer aan ons kan toe aan ons kan toevertrou.

In die Naam van ons Meester YESHUA, dank ons U vir elke uitdaging in ons lewe, want dit bou ons karakter en vertroue in U.

Amen.


•••••••



Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za

Sel: +27716283107

June 9, 2025
13. En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig! 14. Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word. *** Kern gedeelte: "want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word" Soms maak ek net verskoning en stap uit die gesprek, die geselskap en uit die vertrek uit, want daar is nie genoeg plek vir my, die persoon met wie ek gesels, en sy ego van die "eie ek" nie. Wanneer ons nog so vol van onself is, is daar nie plek vir GOD in ons lewens nie, en hoe sal die Heilige Gees in ons lewe inspreek, wanneer ons eiewysheid deur ons eie stem aangevuur word. Moenie te hoog probeer vlieg nie, en moenie jouself verhoog nie want GOD haat trotse oë. Hoogmoed kom voor die val, want eers dan word ons stem stil, gaan ons ore oop, sodat ons na GOD se stem kan luister. Eers dan leer ons ook om te sê: o GOD, wees my, sondaar, genadig! ------- GEBED. VADER, in 'n oogwink kruip trots en die "eie ek" weer terug in ons lewe in. Ons wil so graag deur mense gesien en geprys word en kortliks staan ons weer op die verhoog van valse toneelspel, waar ons die wêreld se goedkeuring wil wegdra. Gee asb aan ons die krag om vandag van hierdie pad weg te draai sodat ons sal besef, dat alles wat ons is, is slegs deur U genade. Sodat ons ook sal bid, o GOD, wees my sondaar genadig! In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir nederigheid, nederigheid en nederigheid voor U. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
June 6, 2025
10. Jy, o mensekind, vertel die huis van Israel van die huis, sodat hulle beskaamd kan staan vanweë hul ongeregtighede, en laat hulle die voorbeeld nameet. 11. En as hulle beskaamd staan oor alles wat hulle gedoen het, maak hulle dan bekend die vorm van die huis en sy inrigting en sy uitgange en sy ingange en al sy vorme en al sy verordeninge, ja, al sy vorme en al sy wette; en skrywe dit voor hulle oë op, sodat hulle sy hele vorm kan bewaar en al sy verordeninge en dié kan uitvoer. *** Kern gedeelte: "as hulle beskaamd staan oor alles wat hulle gedoen het" Hierdie is so van toepassing in almal van ons se lewe. Dit is eers wanneer ons beskaamd staan oor ons verlede, dit wat ons gedoen het voor GOD belei, en vir vergifnis vra in die Naam van JESUS CHRISTUS, wat die sluier voor ons oë gelig sal word, en ons sal die waarheid begin sien vir wat dit werklik is. Eers dan sal GOD se bloudruk plan vir ons lewe stelselmatig aan ons openbaar word. Maar as ons nog glo dat die ongeregtigheid waarmee ons besig is, reg is, dan is ons nog verblind deur die "verderwer" en lewe ons nog in die verlusting van hierdie wêreld. ------- GEBED. VADER, daar is niemand so blind soos 'n persoon wat nie wil sien nie en daarom bid ons dat U die sluier oor ons oë sal lig. Laat ons sien en beskaamd staan oor die ongeregtigheid, die sonde wat ons mee besig is, en laat ons nie oop oë hêl toe gaan nie. Dankie dat ons slegs deur U genade tot hiertoe nog in die lewe gehou is, sodat ons nog die geleentheid het om ons Verlosser te vind. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat elkeen wat hierdie boodskap lees of luister, se geestelike oë geopen sal word vir hulle eie foute. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
June 5, 2025
17. Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie 18. nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil. 19. Die Here Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. *** Kern gedeelte: "nogtans sal ek jubel in die Here" Vanoggend is een van daardie oggende waar alles net skeefloop, en sedert ek uit die bed geklim het gaan dit reeds so. Die waarheid is dat dit gaan al die hele week so, maar selfs dit bekommer my nie. As die storms kom, hou aan stap in geloof, stap teen die storm in, glo dat GOD jou gaan krag gee, jou gaan deurdra en sodoende gaan hierdie storm ook binnekort iets van die verlede gaan wees. Niks hou vir ewig aan nie, nie eers ons woestyn tye nie. Ook dit sal verbygaan, maar ons verhouding met GOD sal bly staan. Daarom kan ons sê: Nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil. ------- GEBED. VADER, ons weet dat die "verderwer" ons sal aanval met 'n rede, en daardie rede is die Evangelie van U Seun, ons Verlosser. As ons gekies het om weg te stap van die weë van die wêreld af, aan U gehoorsaam word, sal die aanslae kom, maar U reddende regterhand het ons tot nou toe nog deur alles gedra, selfs deur ons swak besluite. Dankie dat ook in hierdie storm, U ons die krag gee om alles te oorkom. In die Naam van ons Meester YESHUA, verklaar ons oorwinning oor hierdie dag. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
June 4, 2025
3. Ek stel geen lae ding voor my oë nie; die dade van afvalliges haat ek; dié sal my nie aankleef nie. 4. 'n Verkeerde hart moet ver van my af bly; wat kwaad is, wil ek nie ken nie. 5. Hy wat heimlik van sy naaste kwaad spreek, hom sal ek vernietig; hy wat hoog van oë is en trots van hart, hom verdra ek nie. 6. My oë sal wees op die getroues in die land, dat hulle by my kan woon; hy wat wandel in die weg van opregtheid, dié mag my dien. 7. Hy wat bedrog pleeg, mag binne-in my huis nie bly nie; wie leuens praat, kan voor my oë nie bestaan nie. *** Kern gedeelte: "n Verkeerde hart moet ver van my af bly" Ek dink nie ek is beter as ander nie, en ek sal met enige persoon gesels, tyd spandeer en 'n pad saam met hulle probeer stap. Wanneer ek egter bewus word dat 'n persoon nie met 'n opregte hart wandel nie, dan sê ek dit vir die persoon, en ons paaie skei. Laat mense eerder nie van jou hou nie, as wat dieselfde mense, wat nou van jou sleg praat en van jou skinder, jou in die grond in sou vertrap het. Twee gesêgdes staan altyd vir my uit, en ons moet dalk na die geselskap kyk waarin ons daagliks verkeer. * Meng jou met die Semels en die varke vreet jou op. * Wys my jou vriende en ek wys jou, jou toekoms. Besluit maar selfs, ek is nie hier om te oordeel nie. ------- GEBED. VADER, U Woord leer ons, Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie. Laat U Heilige Gees asb aan ons openbaar wie nie in ons lewe hoort nie, en watter mense ons eerder moet laat gaan. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir geestelik geopende oë. Amen •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
June 3, 2025
11. Toe sê Hy vir my: Mensekind, hierdie bene is die hele huis van Israel. Kyk, hulle sê: Ons bene is verdor, en ons verwagting is verlore; dit is klaar met ons! 14. En Ek sal my Gees in julle gee, dat julle lewendig kan word; en Ek sal julle vestig in jul land; en julle sal weet dat Ek, die Here, dit gespreek en gedoen het, spreek die Here. *** Kern gedeelte: "Ek sal julle vestig in jul land" Ek slaan my oë op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom? Vandag se boodskap is vir elkeen wat wil vlug uit ons land Suid-Afrika, na die groener weivelde wat die wêreld vir julle voorhou. Maar weet, jy sal terugkom na jou land, want GOD sal jou hier vestig. Miskien sê jy ook vandag, Ons bene is verdor, en ons verwagting is verlore; dit is klaar met ons! Nee, dit is eers klaar met ons wanneer GOD so gesê het en vanoggend is hierdie 'n boodskap van hoop en verwagtig, 'n bevestiging dat ons land nie net sal herstel nie, maar een van die beste lande in die wêreld sal word. Hoekom? Want GOD het so gesé, Hy spreek, en dit sal so wees! Daarom hoef ons nie te wonder waar ons hulp vandaan sal kom want nie, want ons weet, ons Hulp is van die HERE. ------- GEBED. VADER, daagliks raak toestande en omstandighede net slegter in ons land, en almal begin oorboord spring en gryp na reddings bootjies wat die wêreld bied. Maar die wat in geduld en geloof op die verandering wag wat U besig is om teweeg te bring, sal die vrugte pluk. Ons vra vir die besef, deur die inwerking van U Heilige Gees, dat Suid-Afrika ons land van geboorte is, dat dit my reg is om hier te bly, en hier gaan ek nie verdring word nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir 'n gees van standvastigheid in ons, wat kan opstaan vir ons reg. Amen. ••••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
June 2, 2025
VERDER het koning Dawid aan die hele vergadering gesê: My seun Salomo, die een wat God verkies het, is jonk en teer, en die werk is groot, want nie vir 'n mens is die paleis nie, maar vir die Here God. *** Kern gedeelte: "is jonk en teer, en die werk is groot" Ons as ouers faal ons kinders omdat ons hulle nooit toelaat om te faal op hulle eie nie. Dawid het vir sy seun Salomo alles gereël om die tempel van GOD te bou, en hy het gedoen wat hy kon deur regerings amptenare te oortuig om Salomo te ondersteun. Deel van Salomo se suskses was aan sy pa toe te skryf, maar die taak van die bou van die tempel en sy verhouding met GOD moes hy self hanteer. So ook met ons kinders, as hulle sukkel, wil ons dinge uit hulle hande neem, en as hulle foute maak, wil ons intree om die nagevolg sagter te maak. As jy vandag alles vir jou kind wil doen, hoe gaan hy môre as jy jou kop neergelê het, die wêreld in die oë kyk, sake op sy eie besluite hanteer en steeds standvastigheid in sy verhouding met GOD hê. Dit is nie jou lewe nie, dit is jou kind se lewe, rig hulle op hulle pad, leer hulle tussen reg en verkeerd, maar laat hulle die besluite maak en die nagevolg daarvan dra! ------- GEBED. VADER, leer ons asb hoe om ons kinders te leer hoe om hulle lewe te leef, laat ons nie alles oorvat en probeer om hulle lewe vir hulle te lewe nie. Leer asb ons kinders dat hulle besluite, afekteer hulle toekoms, en hulle dek hulle eie tafel van nagevolg. Laat ons as ouers nie ons en ons kinders se toekoms affekteer deur gedurig in te meng, besluite vir hulle te maak, en die nagevolge van hulle swak besluite op ons te neem nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir insig om ons kinders te rig op hulle lewenspad, sodat hulle GOD vresend voor U kan staan. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
Meer Plasings