DEUTERONÓMIUM 3:25-26 AFR53

May 21, 2025

25. Laat my tog oortrek en die mooi land sien wat oorkant die Jordaan lê, daardie goeie bergland en die Líbanon!

26. Maar die Here het toornig op my geword om julle ontwil en my nie verhoor nie; maar die Here het vir my gesê: Dit is nou genoeg! Moenie nog verder met My oor hierdie saak spreek nie.


***


Kern gedeelte:

"maar die Here het vir my gesê: Dit is nou genoeg!"


NEE, is ook 'n antwoord!

Miskien bid jy ook oor 'n sekere saak, en jy bid reeds baie lank hieroor, maar GOD sê vanoggend vir jou, die antwoord is Nee!

Dit gaan nie gebeur nie.

So is dit ook ons ouers se plig om ons kinders te leer, dat Nee, ook 'n antwoord is, want ons lewe in 'n tyd waar die "verderwer" deur die sisteme van die wêreld alles in ons keel wil afdruk, en as ons nie ja sê nie is ons verkeerd en word allerhande name genoem.

Die antwoord is Nee, ek staan op vir my reg, ek staan op vir my land waarin ek gebore, ek staan op vir die GOD wat ek dien, en Nee, en gaan nie aan die wêreld gelykvormig word nie.

Laat daardie boodskap helder en duidelik uitgaan!


-------


GEBED.


VADER, dankie dat U vanoggend bevestig dat Nee ook 'n antwoord is, en dat ek ook die reg het om Nee te sê, want sonde en ongeregtigheid gaan ek nie in my huis, my lewe, my besigheid toelaat nie. Ek vra vir die krag om op te staan, 'n standpunt in te neem, en daarby te hou, ongeag wat oor my pad kom. Gee ons asb die moed en krag om hierdie boodskap ook aan ander oor te dra, sodat ons in eenheid teen hierdie wêreld sal staan, want eendrag maak mag.

In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir eenheid en herstel in ons land Suid-Afrika.

Amen.


•••••••



Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za

Sel: +27716283107

August 20, 2025
14. Maar hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word. 15. Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar 'n bedekking oor hulle hart; 16. maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem. 17. Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. *** Kern gedeelte: "Maar hulle sinne is verhard" Hoekom is sekere mense nog in hulle sinne verhard, al loop hulle rond en verkondig dat hulle bekeerd is en dat hulle GOD dien. Eenvoudig, om van GOD te weet, die Woord te kwoteer maak jou nie 'n kind van GOD nie, 'n ware volgeling van JESUS CHRISTUS NIE! Die "verderwer" weet ook van GOD en hy het ook die Woord kwoteer! Eers wanneer jy tot ware inkeer gekom het, JESUS as jou Verlosser en Saligmaker aanvaar het, en jy GOD soek bo alles, sal die sluier vir jou oor die Woord van GOD gelig word. Dan breek die waarheid vir jou deur soos die daggeraad, want waar die Heilige Gees van GOD teenwoordig is, sal jy die waarheid verstaan en daardie waarheid sal jou vry maak. ------- GEBED. VADER, daar is soveel dwaling in hierdie wêreld, en U Waarheid maak vir soveel mense nog geen sin nie. Daarom bid ons vanoggend vir siele tot ware bekering, laat U Heilige asb elkeen se oë verlig sodat hulle die situasie kan sien vir wat dit is. Sodat ons sal besef waar ons nog in die sonde van die wêreld leef, betrokke is in dit wat nog 'n skeidsmuur vorm tussen ons en die waarheid van U Woord. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U ons geestelike blindheid sal genees. Amen. •••••••  Webtuiste: https//tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
August 19, 2025
12. Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar. 13. En ek het 'n stem uit die hemel aan my hoor sê: Skryf — salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle. *** Kern gedeelte: "hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar" Die Woord van GOD is onmiskenbaar duidelik vir die verligte siele wat die gebooie van GOD en hulle geloof in JESUS CHRISTUS bewaar. Tog is daar soveel wat nog nie besef dat GOD se Woord, een Woord is wat nie gesky kan word nie. Hulle besef nie dat ons verhouding met GOD lê in die eerste vier gebooie nie, en om in liefde teenoor ons naaste te lewe, lê juis vasgevang in die laaste ses van die tien gebooie nie. Almal soek na die "vals" vorm van liefde wat in die wêreld verkondig word, en daarom nooi ons die sonde en die "verderwer" by die voordeur in. JESUS maak dit duidelik in Johannes 15:10 wanneer Hy sê: As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly. As ons dit verstaan, sal ons die grootste gebod verstaan wat sê, jy moet die HERE jou GOD liefhê met jou hele hart, jou hele siel en jou hele verstand, en jou naaste soos jouself. Dan sal GOD se geregtigheid, Sy onpartydige opregtheid ook vir jou duidelik word. ------- GEBED. VADER, net 'n kort gebed waar ons vra dat U ons geestelike oë sal open sodat ons die waarheid van U Woord sal insien en begryp, sodat ons nie in die vals leringe van hierdie wêreld sal staan nie. Verlig asb vandag ons gees en ons gemoed. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U Heilige Gees ons die waarheid van U Woord sal leer. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
August 18, 2025
17. Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie 18. nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil. 19. Die Here Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente. **** Kern gedeelte: "nogtans sal ek jubel in die Here" Ek luister hoe mense kla oor hulle finansies, situasies en omstandighede, en ek weet nie altyd wat om te antwoord nie, want elkeen se omstandighede is anders. Iemand oor die naweek sê toe vir my die volgende: Daardie man loop en kla, maar hy is nog vêr van Job se situasie af. Nou ja, toe hou ek ook op met kla want ek is ook nog bitter vêr van Job af. Nou sê ek eerder, ongeag wat, nogtans sal ek jubel in die HERE, en ek dank GOD vir die voorregte wat ek nog het, soos kos op die tafel en 'n dak oor ons kop. Laat ons ophou kla terwyl ons nog met die "witbrood onder die arm" loop, terwyl ons nog in GOD se seën lewe. Miskien nie in ons lys van verwagtinge nie, maar in GOD se seëninge. ------- GEBED. VADER, dankie vir hierdie oproep tot realiteit, sodat ons kan besef dat daar ander mense is wat slegter daaraan toe is as wat ons is. Help ons asb vandag om eerdeer ons seëninge te tel as wat ons, ons tekortkominge begin tel. Dankie vir vir stukkie voorsiening uit U Hand en dankie vir ons daaglikse brood. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir harte wat dankbaar kan wees vir dit wat ons tans het. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: 0716283107
August 13, 2025
19. Jy mag die reg nie verdraai nie; jy mag nie partydig wees nie; ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want die geskenk verblind die oë van die wyse en verdraai die sake van die wat reg het. 20. Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag, dat jy kan lewe en die land in besit kan neem wat die Here jou God jou sal gee. *** Kern gedeelte: "Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag" Geregtigheid is die een onderwerp wat soos 'n goue draad regdeur die Woord van GOD geweef is. Daarom maak JESUS CHRISTUS dit vir ons duidelik wanneer Hy sê in Matthéüs 6:33. Soek eers die Koningkryk van GOD en Sy Gerergtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Al ooit die woorde gehoor wat sê, jou ongeregtigheid sal jou inhaal. Dit word met reg so gesê want elke keer as jy in ongeregtigheid beweeg moet jy weet, jy dek jou tafel van nagevolg waar jy eendag sal moet aansit. Jy mag dink dat jy daarmee weggekom het, maar weet dat die wiel draai, miskien stadig maar hy draai. Wanneer jy dit die minste verwag sal jy deur jou eie ongeregtigheid raakgery word. ------- GEBED. VADER, ons land, ons volk en ons mense gaan ten gronde as gevolg van ongeregtigheid. Maar U is 'n GOD wat nie slaap nie, en daarom vra ons dat U sal toesien dat elke daad van ongeregtigheid na sy eienaar sal terugkeer sodat elkeen met die nagevolg van sy ongeregtigheid kan deel en aansit by sy tafel van nagevolg. Maar in alles bid ons dat U Wil sal geskied, soos dit U behaag. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U Heilige Gees ons sal leer hoe om in U geregtigheid te leef. Amen. •••••••  Webtuiste://https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
August 7, 2025
6. Die Here rig die ootmoediges weer op; die goddelose mense verneder Hy tot die grond toe. 10. Hy het geen welbehae in die krag van die perd, geen welgevalle in die bene van die man nie. 11. Die Here het 'n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop. 13. Want Hy het die grendels van jou poorte sterk gemaak; Hy het jou kinders binne-in jou geseën. *** Kern gedeelte: "Die Here rig die ootmoediges weer op" Vanoggend lê die Heilige Gees hierdie woorde so duidelik op my hart, want iemand het nodig om dit te hoor! Jou uitkoms, jou krag, jou deurbraak, jou genesing lê nie in die hand van vlees nie, maar deur die krag van GOD! Ons wag soms met verwagting dat iemand ons lewe en ons situasie moet kom verander, maar as dit nie van GOD kom nie, nie deur GOD se Wil is nie, lewe jy met 'n leë verwagting, want vervloek is die man wat steun op die arm van vlees! Maar as jou verwagting op GOD is, weet dan dat jou oplossing is voor die deur, weet dat jou weg is reeds vir jou uitgelê, en weet verseker dat GOD jou nooit sal faal nie! As jy GOD dien met jou hele hart, hele siel en hele verstand, en jou hoop en verwagting is slegs op GOD staan vandag op, stap die lewe in want alles gaan uitwerk presies soos GOD dit beplan het. Moenie in vals hoop lewe of deur twyfel oorweldig word nie, maar staan op in die Krag van GOD. ------- GEBED. VADER, ons weet sonder twyfel dat U is ons Rots en ons Vesting, ons GOD op wie ons vertrou, want U het geen behae in die weë van hierdie wêreld nie, of die mens wat hardnekkig daarin bly voortleef nie. Help ons asb om noukeurig volgens, en in U weë te wandel, en laat die hoop wat hierdie wêreld bied vir ons tot niet gaan. In die Naam van ons Meester YESHUA, dank ons U vandag, vir hierdie nuwe dag waarmee U ons geseën het. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
August 6, 2025
15. Want so sê die Here Here, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie. 21. en jou ore sal 'n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan. *** Kern gedeelte: "in stil wees en vertroue bestaan julle krag" In elke situasie wil ons met alles stoei, worstel, ons eie wil afdruk en ons eie kop volg. Maar dan kom daar sekere dae wat ons opstaan en besef, ons gaan absoluut niks aan ons situasie, ons saak verander nie, net GOD gaan hierdie probleme oplos, voorsiening stuur of uitkoms gee, want in ons eie krag gaan ons niks hieraan verander nie. In pogings om dinge in ons eie krag op te los, het ons reeds 'n gemors daarvan begin maak. Eers wanneer ons dan voor GOD kom stilraak en sê, laat U Wil geskied in hierdie saak, sien ons hoe sake verander, sien ons hoe GOD se Hand begin werk in ons lewe. Hou op worstel, raak stil voor GOD en daar sal jy jou krag kry. Ons dink ons is in beheer, maar die realiteit is, dat nie eers ons volgende asemteug is gewaarborg nie, en die dag van mag dalk nooit eers aan jou gegun wees nie. ------- GEBED. VADER, dankie dat U ons vanoggend teregwys, want ons vergeet soms, dat in ons swakheid kom U Krag te voorskyn. In ons stilte kan ons U Stem hoor wat sê gaan links of regs. Laat ons vanoggend nie ingee voor die wêreld nie, maar oorgee aan U sodat U ons kan rig op ons weë. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir elkeen wat geen sekerheid het oor hulle toekoms nie, bevestig U asb hulle lewenspad. Amen. ••••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
Meer Plasings