SPREUKE 17:27-28 AFR53
27. Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm is van gees, is 'n man van verstand.
28. Selfs 'n sot sal as hy swyg, vir wys gereken word; as hy sy lippe toehou, vir verstandig.
***
Kern gedeelte:
"Wie sy woorde inhou"
Hulle sê dat met die grysheid kom die wysheid, en ek het daadwerklik al mense ontmoet op my lewenspad wat hierdie stelling gestaaf het.
Maar dan het ek ook al gryse mense teëgekom wat oorkook soos 'n pot warm melk en 'n totale gek van hulleself gemaak het.
Al is dit moeilik, hou jou gees kalm want in die hitte van die oomblik kom jou ware karakter na vore, dan sien mense jou vir wie en wat jy is.
As jy nie die situasie kalm kan hanteer, en weet wat om te sê nie, draai om en stap weg.
Môre is nog 'n dag,
Verloor eerder die geveg, maar wen die oorlog.
-------
GEBED.
VADER, Elia het nie U Stem in die vuur of in die wind gehoor nie, maar in die gesuis van sagte koelte. Al is dit die plan van die "verderwer" om die slegste in ons na vore te bring, gee U Heilige Gees ons kalmte en maak ons stil sodat eers na U Stem kan luister voordat ons reageer. Versterk ons asb sodat ons nie uit teësin of weerwraak sal spreek nie, maar slegs God gerigde woorde van wysheid.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir 'n kalm gees en stil gemoed.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za





