OPENBARING 3:15-17 AFR53
15. Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm!
16. Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.
17. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.
***
Kern gedeelte:
"omdat jy lou is en nie koud of warm nie"
Waarom het jy lou geword in jou verhouding met GOD, en waarom is jy onseker, twyfel jy oor jou toekoms.
Het GOD jou nie tot hier gebring en Sy Hand van beskermimg, van voorsiening oor jou gehou nie?
Ons verkoel in ons verhouding met GOD wanneer ons, onself met ander mense en met die wêreld vergelyk.
Die plan wat GOD met jou lewe het, kan nie met ander vergelyk word nie, en ons sien net die beeld van buite, en het geen idee wat werklik in ander mense se lewe aangaan nie.
Hulle worstel dikwels met probleme groter as joune, maar die beeld wat hulle uitstraal is hulle geloof in GOD en die vertroue dat Hy hulle sal deurdra.
Lewe jy jou doel uit, dit wat GOD op jou hart gelê het, moenie lou word nie.
Wees warm vir die Evangelie en dan sal jy weer ervaar hoe GOD jou wil gebruik.
-------
GEBED.
VADER, dankie dat U ons vanoggend daarin herhinner dat ons onself negatief maak deur ons lewe met ander te vergelyk. U plan vir ons lewe is uniek, maar ons het nodig om na U Stem te luister en gehoorsaam te wees sodat ons bruikbaar vir U kan wees. Sodat ons, ons volle potensiaal kan uitleef in U. Laat U vuur in ons begin brand soos nog nooit tevore nie.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U ons die krag sal gee om op te staan, weer te lewe vir U.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
E-pos: fanie.le@tentvansamekoms.co.za
Sel: (+27)(0)716283107





