OPENBARING 21:6-8 AFR53
6. En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.
7. Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom 'n God wees, en hy sal vir My 'n seun wees.
8. Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars — hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.
***
Kern gedeelte:
"hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel"
In hierdie lewe kan ons dit probeer ontken, ons kan met ons kop in die sand lewe, voorgee dat ons nie sien nie, maar die realiteit gaan nie verander nie.
Die tyd vir elkeen om hierdie aarde te verlaat gaan een of ander tyd aanbreek, en nie een van ons gaan die Wittroon oordeel mis nie.
Elkeen sal verantwoording doen vir sy eie dade, en as jy die weë van hierdie wêreld oorwin het, het jy niks om te vrees nie.
Ek sê verder niks, almal kan lees, die Woord maak dit duidelik.
Elkeen wat hierdie Woord lees weet waarheen hulle oppad is, die oordeel kom my nie toe nie.
Maar as jy twyfel, GOD gee uit die fontein, van die water van die lewe, verniet!
As jy nog nie JESUS CHRISTUS in jou lewe ontmoet het nie, maak vandag die keuse.
-------
GEBED.
VADER, dankie vir hierdie nuwe dag, dankie dat U ons nog die geleentheid gegun het om ons lewe vandag aan U oor te gee want U Woord sê, so lief het GOD die wêreld gehad dat Hy Sy Eniggebore Seun gegee het, sodat Elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Laat U Heilige Gees ons asb vandag aanraak sodat ons die aanraking van U seun sal ervaar.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir elkeen wat by die kruispad van die lewe staan, en ons vra dat U elkeen sal aanraak, sodat hulle sal kies, om gekies te word.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
Sel: +27716283107





