OPENBARING 12:12, 17 AFR53
12. Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.
17. En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.
***
Kern gedeelte:
"met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het"
As jy die gebooie van GOD en die Getuienis, die Evangelie van JESUS CHRISTUS glo en verkondig, dan moet jy nie simpatie van die "verderwer" verwag nie.
Die Woord van GOD maak dit duidelik dat hy rond loop soos 'n brullende leeu en soek na wie hy kan verslind.
Let op, soos 'n brullende leeu.
As jy jou standvastigheid in GOD vind, sal die gebrul van die "verderwer" verander van vrees wat jou lamlê, na nuttelose geraas in jou lewe wat geen effek op jou het nie.
Aanslae en vals aantuigings sal na jou kant toe kom, maar as ons vers 11 lees, dan staan daar:
En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.
Onthou, jou oorwinning lê in die bloed van die Lam!
-------
GEBED.
VADER, hoe dikwels lewe ons in vrees, voel ons dat ons nie goed genoeg is nie, lei ons aan 'n swak selfbeeld, en alles deur die leuens van die "verderwer". Laat hierdie waarheid asb by ons insink dat ons oorwinning lê in die bloed van die Lam. As ons U Seun aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker, sal ons U in onpartydige opregtheid wil lewe, deur U gebooie te onderhou.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons 'n 'n nuwe dag, 'n nuwe begin in ons lewe.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
Sel: +27716283107





