EXODUS 23:20-22 AFR53

October 9, 2025

20. Kyk, Ek stuur 'n Engel voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na die plek te bring wat Ek gereedgemaak het.

21. Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want my Naam is in Hom.

22. Maar as jy terdeë na sy stem luister en alles doen wat Ek sal sê, sal Ek die vyand van jou vyande en die teëstander van jou teëstanders wees.


***


Kern gedeelte:

"Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem"


Laat ons vanoggend nie wederstrewig wees nie, maar luister na die Stem van GOD, deur die inwerking van Sy Heilige Gees.

As jy wil hê dat GOD jou moet rig op jou lewenspad, dan moet jy nie net luister na Sy Stem nie, maar jy moet gehoorsaam wees daaraan.

Ons almal luister daagliks na die stemme, na die invloede van die wêreld en weens die geraas in ons lewe, hoor ons nie GOD se Stem nie.

Dit is nodig dat ons die geraas verwyder, gaan stil raak voor GOD sodat ons Sy plan vir ons lewe kan verstaan.

Wat op hierdie oomblik so reg lyk en voel in ons lewe, is dalk heeltemal verkeerd.

As jy sekerheid en vaste rigting wil hê, luister terdeë na GOD se stem, dan sal GOD die vyand van jou vyande en die teëstander van jou teëstanders wees.


-------


GEBED.


VADER, verwyder asb die geraas uit ons lewe en maak ons stil. Skep asb vir ons die geleentheid om in stilte, U insig, wysheid en raad te kom soek. Wys asb aan ons waar ons wederstrewig teen U Wil inwerk en ons eie koppe volg. Open asb ons oë sodat ons die Waarheid in elke situasie sal sien.

In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir U Wil in ons lewe.

Amen.


•••••••



Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za

Sel: +27716283107

January 9, 2026
14. Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15. en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. 16. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik. *** Kern gedeelte: "Laat julle lig só skyn voor die mense" Ek luister na 'n gedeelte oor Ligtorings en die besef kom by my op, Ligtorings is daar geplaas vir 'n rede. Die ligging van so 'n toring is nie normaalweg ideal nie, maar dit is in areas waar skepe deur storms in die moeilikheid beland en die Ligtorings help om die skepe veilig te hawe te laat inkom. So word ons ook geplaas in minder ideale plekke, maar bly jy net waar GOD jou geplaas het, want mense wat koers en rigting nodig het deur GOD se Woord sal oor jou pad kom. Hulle sal hulle rigting vind in die Lig van JESUS CHRISTUS wat deur jou skyn. Moenie wegbeweeg van waar GOD jou geplaas het nie, en moenie rondval, na mense gaan soek wat jy dink dat hulle hulp nodig het nie. Staan vas, lewe in GOD, laat Sy Lig skyn, en die mense wat in storms beland het, sal deur jou weer hulle rigting na GOD terugvind. ------- GEBED. VADER, U is ons Rots en ons Vesting, en in U is ons hoop om staande te bly. Laat ons nie deur ondankbaarheid, onsekerheid en ontevredenheid ons posisie verlaat of ons grond gebied opgee wat U vir ons bestem het nie. Laat U Heilige Gees ons asb versterk sodat ons, waar ons geplaas is staande kan bly. Laat U Lig sonder ophou deur ons skyn vir ander om te sien. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U ons sal rig wanneer ons moet bly en wanneer dit tyd geword het om aan te beweeg. Amen. •••••••• Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
January 8, 2026
16. Wees altyddeur bly. 17. Bid sonder ophou. 18. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle. 19. Blus die Gees nie uit nie. 20. Verag die profesieë nie. *** Kern gedeelte: "Wees in alles dankbaar" As jy vanoggend wakker geword het met negatiewiteit in jou, en jy voel miskien dat alles net verkeerd loop, jy voel jy kan nie meer nie, dan is dit tyd om net te stop, alles te los en vir GOD dankie te sê. Dankie vir die gesondheid om vanoggend te kon ontwaak. Dankie vir oë om hierdie boodskap te kan lees. Dankie vir 'n dak oor ons kop en 'n bed om in te kon slaap. Dankie vir voorsiening en dankie vir 'n werk. Dankie vir mense wat ons ondersteun. Dankie vir ons vyande want deur hulle ons hoe om ander mense binne GOD se geregtigheid te hanteer. As jy in 'n gesindheid van dankbaarheid begin beweeg, sal jy verbly wees in dit wat jy het, instede daarvan om negatief en ongelukkig te wees oor dit wat jy nie het nie. Neem net so oomblik en dink mooi na oor dit wat ek vanoggend sê. ------- GEBED. VADER, ons ongelukkigheid lê dikwels in ons soeke na meer. Leer ons asb, en gee ons asb 'n gesindheid van dankbaarheid. Laat ons nie bekommerd wees oor die dag van môre nie, want die dag van môre het sy eie probleme. Vanoggend wil ons ophou kla oor ons tekortkominge en dankie sê vir dit wat ons het. Leer ons asb dat die lewe gaan nie daaroor om alles te kry wat ons wil hê nie, maar dat ons dankbaar en vergenoegd moet wees met dit wat ons reeds het. In die Naam van ons Meester YESHUA, dankie ons U vir hierdie nuwe dag met nuwe geleenthede. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
January 7, 2026
2. En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword. 3. En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word. 4. Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan. *** Kern gedeelte: "Die mens sal nie van brood alleen lewe nie" Die lewe gaan nie net oor werk, en die liggaam gaan nie net oor brood nie. Hierdie is dinge wat in GOD se beheer is, en as jy geseënd is met werk en jou inkomste is genoegsaam, dank GOD daarvoor in JESUS CHRISTUS. Maar as jy vanoggend soek na die voedsel wat lei tot bekering, weg van die sonde, na die ewige lewe, sal jy dit vind in die Woord van GOD. Namate ons deur GOD se Woord gevoed word, sal ons behoefte na dit wat die wêreld bied verloor, totdat ons die punt bereik waar Habakuk was toe dit met hom minder goed gegaan het, kon hy nog steeds sê: Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie, nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil. ------- GEBED. VADER, dankbaar kom ons voor U vanoggend, want U voorsien en U versorg. Daar mag miskien tye gewees het wat dit minder goed gegaan het, maar deur U Woord het ons die krag gekry om alles te oorkom. Dankie dat U ons geleer het dat ons nie van brood alleen sal lewe nie maar van elke Woord wat uit U mond uitgaan. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U ons sal versterk sodat ons ook nee kan sê vir versoekings wat ons pad sal kruis. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
January 6, 2026
12. Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete. 13. Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. 14. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind. *** Kern gedeelte: "en daar is min wat dit vind" Om GOD te dien moet ons somtyds die keuse maak om die pad alleen te stap, want nou is die pad en min sal dit vind. Die harde realiteit is dat niemand gaan saam met ons staan wanneer ons voor die Witroon oordeel van GOD gaan staan nie. Vriende, familie, eggenote of besigheids vriende wat jou van die pad af gelei het, gaan nie namens jou verantwoording doen nie. Maak jou keuses en sny jou af van die dinge van hierdie wêreld, verloor eerder nou wat jy moet verloor deur jou keuse om GOD te dien, as wat jy jou siel verloor in die ewige verderf. Elke aksie het 'n reaksie, en elke keuse het 'n nagevolg. Kies dus om die pad saam met GOD te stap, kies om op die nou pad te bly en laat die ander hulle eie keuses maak. ------- GEBED. VADER, waar ons vanoggend voor U staan weet ons waar ons begin dwaal het, ken ons die keuses wat ons gemaak het wat ons weggelei het van ons dieper verhouding met U. Ons kan die skuld pak op wie ons wil, maar aan die einde van die dag was dit ons keuse. Gee ons asb die krag om hierdie keuse terug te draai, reg te maak sodat ons weer binne U Wil vir ons lewe, kan lewe. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir vergifnis van ons sonde, van ons swak lewens keuses. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
January 5, 2026
1. IN daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judéa 2. gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. 3. Want dit is hy van wie deur die profeet Jesaja gespreek is toe hy gesê het: Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit! *** Kern gedeelte: "Bekeer julle" As jy vanoggend die boodskap lees of luister is jy deel van die bevooregtes wat nog in die lewe is, want soveel persone, waarskynlik met groot drome en ideale vir hulle lewe is nie meer met ons in hierdie nuwe jaar nie. Almal van ons het nuwe jaar's voorneme en almal beplan wat ons graag wil doen en bereik. Maar ons lewe is nie in ons eie hande nie, en ons volgende asemteug is nie gewaarborg nie! Daarom wil ek ook vanoggend vra, bekeer julle, want die Koningkryk van die Hemele het naby gekom! Moenie soek wat die heidene soek nie want GOD weet wat ons nodig het, maar soek eers die Koningkryk van GOD en Sy Geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. -------- GEBED. VADER, ons besef vanoggend dat ons prioriteite vir die nuwe jaar dalk nie so reg is as wat ons gedink het nie want ons het U uit ons beplanning uitgesluit, en het net weer begin stap in 'n rigting wat dalk nie moet wees nie. Bring ons asb tot stilstand deur die inwerking van U Heilige Gees sodat ons eers ons prioriteite sal uitsorteer. In hierdie jaar vra ons dat U Woord 'n lamp vir ons voet en 'n lig vir ons pad sal wees. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir die krag om staande te bly in 2026. ••••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
January 2, 2026
12. En omdat hulle in 'n droom 'n goddelike waarskuwing ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met 'n ander pad na hul land teruggegaan. 13. EN toe hulle teruggegaan het, verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak. 14. Hy het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek. *** Kern gedeelte: "in 'n droom 'n goddelike waarskuwing ontvang het" GOD praat met sy kinders op verskeie maniere, maar ons let daar nie op nie. Almal droom, maar nie alle drome het 'n betekenis nie. Wanneer ons egter wakker word uit die droom en dit voel in ons geheue ingebrand is, jy kan nie van die droom vergeet nie, en in jou gees word jy gedurig daaraan herhinner, let dan op want dit kan 'n waarskuwing of besluit bevestiging wees. Daarom sê die Woord vir ons in Job 33 vanaf vers 14-21 dat GOD met ons spreek deur naggesigte en krankheid met heerlike gevolge wanneer hy die seël van waarskuwing op ons druk om ons van ons verkeerde weë weg te hou. As GOD ons waarsku deur die inwerking van Sy Heilige Gees, laat ons nie 'n dowe oor draai nie. ------- GEBED. VADER, U praat, maar ons luister nie en dikwels volg ons, ons eie kop deur ons eiesinnigheid. Ons word gedryf deur ons eie begeertes wat ons op die verkeerde pad lei en ons baie skade gaan berokken. Maak ons asb sensitief vir U Woord, en laat ons op U waarkuwings gehoor gee. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir siele tot bekering en vir harte wat op U waarkuwing gehoor sal gee. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
Meer Plasings