MATTHÉÜS 6:22-23 AFR53

August 8, 2024

22. Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees.

23. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!


***


Kern gedeelte:

"As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees"


Die gawe van sig, is die gawe van lig, want dit is vir ons gegee om te kan onderskei tussen goed en kwaad.

Maar deur die invloed van die "verderwer" word ons oë die voorwerpe van verleiding en misleiding, waardeur ons deur die begeertes van hierdie wêreld meegesleep word.

Ons maak besluite gebasseer op dit wat ons sien, en nie deur die Leiding van die Heilige Gees nie, want in die skoonheid, prag en praal, lê die verleiding van hierdie wêreld.

Wag vanoggend net so oomblik, bid die saak deuglik deur, en as jy nie 'n antwoord van GOD kry nie, beteken dit nie dat jy nie moet voortgaan nie.

As GOD nie met jou is in hierdie saak nie, moenie voortgaan nie, want dit sal jou tot skade wees.

Moenie dat jou ondergang bewerk word deur die begeertes van jou oë nie.


-------


GEBED.


VADER, dankie dat U ons gebede op die regte tyd beantwoord, en dat U ons rig en lei op ons lewenspad, deur die inwerking van U Heilige Gees. Help ons asb vandag om nie deur ons hardkoppigheid en eiesinnigheid in struikeling te kom nie. Leer ons asb om te wag vir 'n antwoord en nie oorhaastig of ongeduldig te raak nie.

In die Naam van ons Meester YESHUA, dank ons U, dat U ons lei, rig, en bewaar op ons lewenspad.

Amen.


•••••••



Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za

E-pos: fanie.le@tentvansamekoms.co.za

Sel: (+27)716283107

July 22, 2025
15. en net toe die draers van die ark by die Jordaan kom en die priesters wat die ark dra, hulle voete aan die kant van die water insteek, terwyl die Jordaan vol was op al sy walle al die dae van die oes, 16. bly die water staan wat van die bokant afkom: dit het opgerys soos een wal, baie ver weg by die stad Adam wat langs Sartan lê; en die wat afstroom na die See van die Vlakte, die Soutsee, het heeltemal verdwyn; toe het die volk deurgetrek, teenoor Jérigo. *** Kern gedeelte: "hulle voete aan die kant van die water insteek" As jy ook vanoggend staan by die walle van jou Jordaan rivier, en jou probleme is ook in vloed, met geen menslike hoop om dit te keer of daardeur te kom nie, wil ek vir jou die volgende bevestiging gee! Om op die wal te bly staan en kyk gaan niks verander nie, maar as jy op GOD se Woord reageer, vorentoe beweeg, die eerste tree in geloof neem, jou voete in die water insteek, sal die pad vir jou oopgaan. Miskien weet jy nie as besigheid, as persoon waar die voorsiening vandaan sal kom nie, maar weet dit! Soos jy begin beweeg, so sal GOD se voorsiening jou volg en jy sal met elke tree net sterker word. Jou mosterd saadjie in jou bank rekening, sal groei tot 'n boom van voorsiening, nie net vir jouself nie, maar ook vir ander. Moenie nou begin twyfel nie, jy het dit reeds gemaak, hou net aan stap. ------- GEBED. VADER, so dikwels wil ons net op die kant staan en bid, oor ons uitdagings en probleme kla, maar tog was U Woorde aan Moses, Wat roep jy na My? Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet wegtrek. Dankie vir U Woord van bevestiging dat ons moet begin beweeg, dat ons moet wegtrek na 'n nuwe toekoms, na 'n nuwe bestemming saam met U. Gee ons asb die krag om die eerste tree in geloof te neem, en dan in volharding die pad aan te hou stap. In die Naam van ons Meester YESHUA, dank ons U vandag vir hierdie bevestiging, Dit is Tyd om te Beweeg. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
July 21, 2025
26. Kyk, ek hou julle vandag seën en vloek voor 27. die seën as julle luister na die gebooie van die Here julle God wat ek julle vandag beveel 28. en die vloek as julle nie luister na die gebooie van die Here julle God nie, maar afwyk van die weg wat ek julle vandag beveel, om agter ander gode aan te loop wat julle nie geken het nie. *** Kern gedeelte: "Kyk, ek hou julle vandag seën en vloek voor" Elkeen van ons, sonder uitsondering het 'n keuse. As jy vanoggend wakker geword het, met asem in jou longe en genoeg helderheid van verstand om hierdie boodskap te lees, dan is dit nog nie te laat nie. Jy het vanoggend nog die geleentheid om 'n keuse te maak. 'n Keuse om JESUS CHRISTUS aan te neem as jou persoonlike Verlosser en Saligmaker, 'n keuse om jou weg te draai van die sonde en GOD te dien met jou hele hart, siel en verstand. Of jy kan die "wêreld" kies wat jou verder in die sonde gaan inlei, op die hoofweg na die ewige verderf. Hierdie keuse word vanoggend vir JOU voorgehou. Nee, dit is niemand anders se keuse nie, niemand anders kan die skuld kry vir dit wat jy gekies het nie. Jy moet kies, want as jy klaar gekies het, gaan jy die verantwoordelikheid dra vir jou keuse! ------- GEBED. VADER, vandag is die eerste dag van die res van ons lewe. Die eerste dag nadat ons die keuse gemaak het om U te dien, of nie te dien nie. Gee ons asb die krag om die regte keuse te maak, om die pad saam met U te stap, maar sonder U nie 'n tree nie. Laat die besef asb tot ons indring dat elke aksie het 'n reaksie en elke besluit het 'n nagevolg. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U ons hart sal aanraak en ons lei in hierdie keuse wat ons vandag moet maak. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
July 17, 2025
27. Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm is van gees, is 'n man van verstand. 28. Selfs 'n sot sal as hy swyg, vir wys gereken word; as hy sy lippe toehou, vir verstandig. *** Kern gedeelte: "Wie sy woorde inhou" Hulle sê dat met die grysheid kom die wysheid, en ek het daadwerklik al mense ontmoet op my lewenspad wat hierdie stelling gestaaf het. Maar dan het ek ook al gryse mense teëgekom wat oorkook soos 'n pot warm melk en 'n totale gek van hulleself gemaak het. Al is dit moeilik, hou jou gees kalm want in die hitte van die oomblik kom jou ware karakter na vore, dan sien mense jou vir wie en wat jy is. As jy nie die situasie kalm kan hanteer, en weet wat om te sê nie, draai om en stap weg. Môre is nog 'n dag, Verloor eerder die geveg, maar wen die oorlog. ------- GEBED. VADER, Elia het nie U Stem in die vuur of in die wind gehoor nie, maar in die gesuis van sagte koelte. Al is dit die plan van die "verderwer" om die slegste in ons na vore te bring, gee U Heilige Gees ons kalmte en maak ons stil sodat eers na U Stem kan luister voordat ons reageer. Versterk ons asb sodat ons nie uit teësin of weerwraak sal spreek nie, maar slegs God gerigde woorde van wysheid. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir 'n kalm gees en stil gemoed. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
July 14, 2025
1. Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie. 2. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen. 3. Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil. 4. Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my. 5. U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. 6. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae. *** Kern gedeelte: "Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie" Ek wil vanoggend nie veel sê nie, maar jou slegs herhinner, wie is, ▪︎ Jou Herder, ▪︎ Jou voorsiener, ▪︎ Jou bewaarder, ▪︎ Jou stok en jou staf, ▪︎ En Wie is dit wat jou tafel voorberei teenoor jou teëstanders. Dit is die Lewende GOD wat die hemel en aarde geskape het! ------- GEBED. VADER, ons sien nie meer U Grootheid en Almag, nie, want ons het van U weg beweeg. Die skeidsmuur van sonde staan tussen ons en U, en ons verstoot die inwerking van U Heilige Gees. Gee ons asb vanoggend 'n oomblik van stilte, 'n oomblik van helderheid van verstand, sodat dit by ons sal insink dat U al om teenwoordig is, want die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir U Wysheid, U Insig en die inwerking van U Heilige Gees in ons lewe. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
July 11, 2025
1. HOOR die woord van die Here, o kinders van Israel! Want die Here het 'n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie. 2. Hulle sweer en lieg en moor en steel en pleeg owerspel; hulle breek in, sodat bloedbad aan bloedbad raak. 3. Daarom treur die land, en alles wat daarop woon, kwyn weg: die wilde diere van die veld en die voëls van die hemel, ja, ook die visse van die see kom om. *** Kern gedeelte: "Daarom treur die land" Ons kla en kerm, maar ons keer nie terug na GOD toe nie. Ons immigreer, maar die swaard sal ons ook daar inhaal, want die liefde en trou van ons GOD is nie in ons hart nie. Ons wys vingers na die goddelose regering, maar niemand dink daaraan dat GOD, soos met Nebukadneser, hulle daar geplaas het om hierdie volk weer op hulle knieë te dwing, weer terug te kry by Hom nie. Ons voortdurende gekerm en gekla gaan niks verander nie, maar gebed verander sake. Nader tot my sê GOD, en Ek sal tot julle nader. Kortliks, wanneer die volk nie meer kan nie, wanneer dit bitter sleg gaan, wanneer choas in land uitbreek, sal ons in eenheid tot GOD begin nader. Dan eers sal GOD se herstel proses begin. ------- GEBED. VADER, die besef sink nog nie by ons in dat dit eers bitter sleg met ons moet gaan voordat dit weer goed sal gaan nie. Ons weet dat herstel deur U Hand sal kom, maar ons loop nog rond as siende blind en horende doof. Ons vra dat Heilige deur ons land sal beweeg, harte sal aanraak, sal voorberei vir die groot Herlewing, die dag wanneer ons weer saam in U Naam sal vergader. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U die skille van ons oë sal verwyder, sodat ons die dwaasheid van ons weë sal sien. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
July 10, 2025
19. SO dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word. 20. Want die toorn van 'n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie. 21. Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red. *** Kern gedeelte: "stadig om te praat, stadig om toornig te word" 'n Mens kan nie jouself, jou spieëlbeeld nie sien in 'n pot kokende water nie, daarom laat die water afkoel, laat jou gemoed rustig word, oordink die situasie. As die water stil en kalm is, eers dan sal jy die volle prentjie sien. As jy dan nog nie seker is hoe om die situasie te hanteer nie, hanteer die situasie in liefde, in kalmte. Die maklikste manier om die situasie in GOD se Wil te hanteer, in liefde te hanteer, is om die volgende vraag te vra. Wat sou JESUS gedoen het, en daarin sal jy jou antwoord vind! Moenie deur oorhaastige woorde en dade aan hierdie wêreld gelykvormig word nie! ------- GEBED. VADER, spyt is 'n goeie ding, maar spyt kom altyd te laat. So ook woorde wat gespreek is, soos vere wat deur die wind verstrooi is, kan dit nooit weer teruggetrek word nie. U Woord sê vir ons dat lewe en dood is in die mag van die tong, daarom gee ons asb die krag om in die hitte van die oomblik, eerder stil te bly, te luister as om woorde van dood te spreek waaroor ons later bitter jammer gaan wees. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir die krag om elke situasie in liefde te hanteer. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
Meer Plasings