MATTHÉÜS 4:2-4 AFR53
2. En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword.
3. En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.
4. Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
***
Kern gedeelte:
"Die mens sal nie van brood alleen lewe nie"
Die lewe gaan nie net oor werk, en die liggaam gaan nie net oor brood nie.
Hierdie is dinge wat in GOD se beheer is, en as jy geseënd is met werk en jou inkomste is genoegsaam, dank GOD daarvoor in JESUS CHRISTUS.
Maar as jy vanoggend soek na die voedsel wat lei tot bekering, weg van die sonde, na die ewige lewe, sal jy dit vind in die Woord van GOD.
Namate ons deur GOD se Woord gevoed word, sal ons behoefte na dit wat die wêreld bied verloor, totdat ons die punt bereik waar Habakuk was toe dit met hom minder goed gegaan het, kon hy nog steeds sê:
Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie, nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil.
-------
GEBED.
VADER, dankbaar kom ons voor U vanoggend, want U voorsien en U versorg. Daar mag miskien tye gewees het wat dit minder goed gegaan het, maar deur U Woord het ons die krag gekry om alles te oorkom. Dankie dat U ons geleer het dat ons nie van brood alleen sal lewe nie maar van elke Woord wat uit U mond uitgaan.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U ons sal versterk sodat ons ook nee kan sê vir versoekings wat ons pad sal kruis.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
Sel: +27716283107






