MATTHÉÜS 10:28-31 AFR53
28. En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.
29. Word twee mossies nie vir 'n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.
30. En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel.
31. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.
***
Kern gedeelte:
"En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel"
Ons lewenspad van die "kot tot die kis" is reeds vir ons uitgelê, en die dag van ons geboorte en afsterwe is reeds vir ons beplan.
Ja, sekere dinge gebeur om ons terug te ruk na die realiteit van die oomblik, waar GOD ons waarsku om onafgehandelde sake uit te sorteer, waar genade tyd nog aan ons gegun word.
Maar nege en negentig persent van die dinge waaroor ons daagliks ons kop breek, gebeur nie eers.
Die Woord is duidelik, jy kan nie een el by jou lengte voeg deur jou te bekommer nie, want jy leef in GOD se hand en niks en niemand sal jou daaruit ruk as dit nie binne Sy Wil is nie.
Luister na die Woord wat sê:
Word twee mossies nie vir 'n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.
Hou op om jou te bekommer oor die dag van môre, en begin vandag voluit lewe.
-------
GEBED.
VADER, dankie dat U ons beskerm teen die aanslae wat ons nooit eers gesien kom het nie. Dat U ons gespaar het om die dag van môre nog te kan beleef. Leer ons asb vandag om voluit te leef ter ere van U Naam en dat ons, ons vrees oor dit wat miskien kan gebeur by U voete sal neerlê, en verklaar dat my GOD is in beheer, en dat slegs U Wil in my lewe sal geskied. Nie een haar sal van ons hoof val sonder U Wil nie.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U vrees en twyfel uit ons lewe sal verwyder.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
Sel: +27716283107





