JONA 1:10-12 AFR53
10. Toe word die manne baie bang en sê vir hom: Wat het jy nou gedoen! Want die manne het geweet dat hy van die aangesig van die Here af wegvlug; want hy het hulle dit te kenne gegee.
11. Verder sê hulle vir hom: Wat moet ons met jou doen, sodat die see om ons heen kan bedaar? — want die see het hoe langer hoe onstuimiger geword.
12. En hy antwoord hulle: Neem my en gooi my in die see; dan sal die see om julle heen bedaar; want ek weet dat om my ontwil hierdie groot storm oor julle gekom het.
***
Kern gedeelte:
"want ek weet dat om my ontwil hierdie groot storm oor julle gekom het"
GOD sal 'n storm in jou lewe gebruik om jou van koers te laat verander, en jou weer nader aan Hom te bring.
Enige een wat weet hoe 'n storm lyk, sal weet dat 'n storm het wye gevolge en dit raak meer as net jouself.
So ook met Jona!
Sy ongehoorsaamheid het gelei tot die skade van ander, want nie net moes hulle die skip se vrag oorboord gooi nie, die skip self het die gevaar geloop om te sink.
So is daar mense in ons lewe wat ons lewens-skip die gevaar laat loop om te sink, deur hulle ongehoorsaamheid!
Dit is nie 'n eensydig storie nie want deur ons ongehoorsaamheid, bring ons ook storms in ander mense se lewens in, deur nie te luister na GOD se stem nie, affekteer ons dikwels 'n weier kring mense as net onself.
Let op wat jy doen, en kyk hoe jou keuse ander mense se lewens gaan aanraak.
-------
GEBED.
VADER, spyt is 'n goeie ding maar kom altyd te laat. Ons vra vanoggend vergifnis van ons sonde, en vra dat U ons sal vergewe vir al die swak besluite wat ons geneem het wat soveel storms, nie net in ons lewe veroorsaak het nie, maar skade in ander mense se lewens veroorsaak het. Vergewe ons dat ons nie gereageer het op U Stem, deur die inwerking van U Heilige Gees nie.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir 'n nuwe, GOD geleide, lewenskoers, ter ere van U Heilige Naam.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
Sel: +27716283107





