JESAJA 55:7-9 AFR53
7. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.
8. Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die Here.
9. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.
***
Kern gedeelte:
"Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie"
Gedurig deur wil ons GOD voorskryf, terwyl ons nie eers weet wat die dag van môre sal inhou nie.
Ons raak nie stil voor GOD om na Sy Stem te luister nie, en ons gee ook nie ag op die waarskuwings deur die inwerking van GOD se Heilige Gees nie.
GOD beplan vir ons 'n hoopvolle toekoms, 'n lewe van oorvloed, maar deur hardnekkigheid, eiesinnigheid en hardkoppigheid jaag ons die verkeerde pad, die weë van hierdie wêreld na.
As dinge skeefloop blameer ons GOD omdat hy terugslae in ons lewe toelaat.
Wat ons sien as terugslae, is eintlik struikelblokke op pad na die hel, want daarsonder sou ons oop oë hel toe gestap het.
Vandag, soos hierdie nuwe dag begin, volg GOD se plan, luister na Sy Stem, want soos die hemel hoër is as die aarde, so is GOD se weë hoër as ons weë en Sy gedagtes as ons gedagtes.
-------
GEBED.
VADER, soms wil dinge nie uitwerk nie, en ons faal keer op keer. Maar ons raak nie net vir 'n oomblik stil voor U voete om U Wil vir ons lewe te probeer verstaan nie. Ons bid dat U ons teen onself sal bewaar, want ons keuses lei tot verkwiste tyd, frustrasies en depressie. Spreek asb vandag U Wil in ons lewe in en rig ons op die pad wat U vir ons beplan.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir U ingryping in ons lewe waar ons die pad byster raak.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
Sel: +27716283107





