HAGGAI 1:5-7 AFR53

October 14, 2025

5. So sê die Here van die leërskare dan nou: Gee ag op wat julle wedervaar het:

6. julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; julle het jul geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in 'n stukkende beurs te steek.

7. So sê die Here van die leërskare: Gee ag op wat julle wedervaar het!


***


Kern gedeelte:

"Gee ag op wat julle wedervaar het"


'n Volk sonder GOD, is 'n versukkelende volk, en 'n huis sonder GOD is 'n gebroke huis.

As iemand oor hierdie wil debateer, kyk om jou rond in ons land Suid-Afrika, en sien hoe 'n eens voortvarende land besig is om tot 'n val te kom.

Dit het gebeur omdat ons as volk, van GOD af weggedraai het.

Dieselfde sal ook in ons huise, ons gesinne gebeur as ons begin om van GOD af weg draai!

Ons sal ook deur baie moeite gaan, maar die beloning daarvan sal min wees.

Ons sal vrede in huis verwag, maar dit sal met storms gevul wees, ons sal seëninge in ons bank rekenings nie sien nie, want die skuldeisers sal alles verteer.

Maar as ons in alles GOD eerste stel, dit wat ons doen, doen ter ere van Sy Naam, as ons binne Sy Wil begin leef, sal die vensters van die Hemel vir ons weer oopgemaak word, met 'n uitstort van seëninge.

Daarom, vanoggend ,Gee ag op wat julle wedervaar het!


-------


GEBED.


VADER, beskaamd staan ons voor U, ons huise gevul met sondes, ons land in verwarring. Laat vandag asb die eerste tree wees op ons pad na herstel, op ons pad terug na U, en leer ons asb om U in waarheid te soek, sonder om ons eie voordeel daarin te soek. Dankie dat U ons vanoggend nog die geleentheid gee om sake reg te maak.

In die Naam van ons Meester YESHUA, spreek ons lewe oor ons huise, gesinne, gesondheid en finansies, ter ere van U.

Amen.


•••••••



Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za

Sel:+27716283107

October 13, 2025
20. En so het Jehiskía in die hele Juda gedoen: hy het gedoen wat goed en reg en trou was voor die aangesig van die Here sy God. 21. En in elke werk wat hy begin het insake die diens van die huis van God en insake die wet en die gebod om sy God te soek, het hy met sy hele hart gehandel en voorspoed gehad. *** Kern gedeelte: "het hy met sy hele hart gehandel" Moenie halfhartig wees in jou verhouding met GOD nie, want voorgee, skynheiligheid, en 'n halfhartige gesindheid pas nie, en het nie plek in jou verhouding met GOD nie. Hoekom het Jehiskía voorspoed beleef in dit wat hy gedoen het? Want in dit wat hy gedoen het, het hy met sy hele hart gedoen, met sy hele hart gehandel. As jy vanoggend hierdie boodskap gelees of geluister het, maak die besluit wie jy wil dien, GOD of die wêreld. As jy egter besluit het om GOD te dien, dien GOD dan met jou hele hart! Onthou, as GOD enige iets vir jou beteken, sal Hy alles vir jou beteken. ------- GEBED. VADER, U Woord sê vir ons dat die boom sal aan sy vrugte geken word, en as ek vanoggend na die vrugte van my lewe kyk, dan sak ek my kop in skaamte, want ons laat toe dat die wêreld sistematies terugkruip in ons lewe in en dit maak inbreuk op ons verhouding met U. Vanoggend onderneem ons egter om U voluit te dien, sodat die wêreld, U Lig deur ons sal sien skyn. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir vergifnis van halfhartigheid. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
October 10, 2025
11. ONS mond het teenoor julle oopgegaan, Korinthiërs, ons hart het verruim geword. 12. Nie in ons het julle dit te nou nie, maar in jul binneste het julle dit te nou. 13. Maar by wyse van vergoeding — ek praat soos met kinders — moet julle ook verruim word. *** Kern gedeelte: "maar in jul binneste het julle dit te nou" Vanoggend wil ek net 'n kort boodskap bring! Laat gaan die vrees in jou lewe, die angs in jou binneste, want GOD is in beheer! Niks sal oor jou pad kom, waarvoor GOD jou nie die krag sal gee om te oorkom nie. Die vrees en die angs verteer jou, en dit opsig self bring meer probleme in jou lewe in. Weet dit, GOD is in beheer, daar sal nie 'n enkele haar van jou hoof val sonder die Wil van GOD nie. ------- GEBED. VADER, twyfel en angs in ons lewe is die boublokke van struikeling, die deur wat ons vir die "verderwer" oopmaak. Gee ons asb die krag om die vrees en angs tersyde te stel en met die wete te begin leef, dat my GOD is, en sal altyd in beheer wees. Dankie vir hierdie bevestiging want U sê in U Woord, al gaan ek ook deur 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bestraf ek gedagtes van vrees en twyfel in my lewe. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
October 9, 2025
20. Kyk, Ek stuur 'n Engel voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na die plek te bring wat Ek gereedgemaak het. 21. Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want my Naam is in Hom. 22. Maar as jy terdeë na sy stem luister en alles doen wat Ek sal sê, sal Ek die vyand van jou vyande en die teëstander van jou teëstanders wees. *** Kern gedeelte: "Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem" Laat ons vanoggend nie wederstrewig wees nie, maar luister na die Stem van GOD, deur die inwerking van Sy Heilige Gees. As jy wil hê dat GOD jou moet rig op jou lewenspad, dan moet jy nie net luister na Sy Stem nie, maar jy moet gehoorsaam wees daaraan. Ons almal luister daagliks na die stemme, na die invloede van die wêreld en weens die geraas in ons lewe, hoor ons nie GOD se Stem nie. Dit is nodig dat ons die geraas verwyder, gaan stil raak voor GOD sodat ons Sy plan vir ons lewe kan verstaan. Wat op hierdie oomblik so reg lyk en voel in ons lewe, is dalk heeltemal verkeerd. As jy sekerheid en vaste rigting wil hê, luister terdeë na GOD se stem, dan sal GOD die vyand van jou vyande en die teëstander van jou teëstanders wees. ------- GEBED. VADER, verwyder asb die geraas uit ons lewe en maak ons stil. Skep asb vir ons die geleentheid om in stilte, U insig, wysheid en raad te kom soek. Wys asb aan ons waar ons wederstrewig teen U Wil inwerk en ons eie koppe volg. Open asb ons oë sodat ons die Waarheid in elke situasie sal sien. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir U Wil in ons lewe. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
October 8, 2025
19. want die Here het Juda verneder ter wille van Agas, die koning van Israel, omdat hy losbandigheid in Juda bevorder en gedurig ontrou teen die Here gehandel het. 21. want Agas het die huis van die Here en die huis van die koning en van die owerstes geplunder, en dit aan die koning van Assirië gegee sonder dat dit hom tot hulp was. 22. Selfs in die tyd toe hulle hom in benoudheid gebring het, het hy nog meer ontrou teen die Here begaan, dieselfde koning Agas: *** Kern gedeelte: "die Here het Juda verneder ter wille van Agas" Vanoggend se woord is so toepaslik op ons land Suid-Afrika! GOD is besig om ons land te verneder ter wille van ons leiers wat van GOD af weggedraai het, en agter die afgode van hierdie wêreld aanhardloop. Maar Pasop, voor ons 'n vinger wys na die regering, laat ons besef dat ons is die hoof van ons huis en ons sal ook vernedering oor ons huis bring as ons ontrou teenoor die HERE handel. Hierdie boodskap sal nie by almal insink nie, want soos Agas, toe GOD hom in benoudheid gebring het, nog meer ontrou gehandel het, so sal sekere van ons, in ons ontrou voortgaan. Dit is reg, dit is elkeen se keuse, maar as ons vernedering oor ons huis bring, moet ons nie vra hoekom nie, want ons is gewaarsku. ------- GEBED. VADER, U het vanoggend tot ons gespreek deur U Woord, maar die keuse van gehoorsaamheid lê by elkeen van ons. Ons kan vandag die lot van ons huis, ons gesin en families bepaal, deur te kies om voort te gaan en nog meer ontrou te handel. Of ons kan kies om van die wêreld weg te draai, en te verklaar, dat ek en my huis, ons sal die HERE dien. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir die regte keuse, die keuse om aan U getrou te bly. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
October 7, 2025
38. Toe roep hy uit en sê: Jesus, Seun van Dawid, wees my barmhartig! 39. En die wat voor loop, bestraf hom dat hy moet stilbly. Maar hy het al harder uitgeroep: Seun van Dawid, wees my barmhartig! 40. En Jesus het gaan staan en bevel gegee dat hy na Hom gebring moes word; en toe hy naby kom, vra Hy hom 41. en sê: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En hy antwoord: Here, dat ek kan sien. 42. En Jesus sê vir hom: Sien! Jou geloof het jou gered. *** Kern gedeelte: "Maar hy het al harder uitgeroep" Vanoggend is die boodskap, roep al harder, moenie toelaat die die geraas van hierdie wêreld, die Stem van GOD in jou stilmaak nie. Daar is soveel tyd vir ander dinge maar daar is nooit tyd vir GOD nie. As enige iemand vanoggend met my wil verskil, dan het ek net een vraag, kyk na jou skerm tyd op jou foon vir die week, en kyk na na die tyd wat jy in stilte in GOD se Woord deurgebring het. Die geraas in jou lewe is die dinge wat jou weghou van die voete, die teenwoordigheid van GOD, sodat jy met die wêreld bemoeid raak en die Verlossing plan, die ewige lewe sal mis. Maar as jy vanoggend al harder roep en jou aandag toenemend aan GOD en Sy Woord toewy, sal jy ook die antwoord kry. En Jesus sê vir hom: Sien! Jou geloof het jou gered. ------- GEBED. VADER, gee ons asb die krag om nooit te swyg oor U Woord, U gebooie of die redding wat U vir ons bewerkstellig het deur U Seun nie. Versterk ons asb, beklee ons met U wapenrusting deur die inwerking van U Heilige Gees. Laat ons van vandag af, bo die geraas van hierdie wêreld kan uitroep, sodat almal sal weet wie is ons GOD, en wie is ons Verlosser. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U ons die krag sal gee om op te staan, en uit te staan in hierdie wêreld. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansmekoms.co.za Sel: +27716283107
October 6, 2025
1. PAS op dat julle nie jul liefdadigheid voor die mense bewys om deur hulle gesien te word nie; anders het julle geen loon by julle Vader wat in die hemele is nie. 2. Wanneer jy dan liefdadigheid bewys, moenie 'n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, dat hulle deur die mense geëer kan word nie. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. 3. Maar jy, as jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, 4. sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde. *** Kern gedeelte: "laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie" Soveel mense wil tog deur ander mense gesien word, deur ander mense geprys word. Wanneer daar 'n uitreik na mense toe is, neem dan die nodige video of fotografiese materiaal, maar moet nie ten koste van ander mense doen nie. As jy iemand gehelp het, is dit nie nodig om dit by elke plek aan mense te vertel, op die media te plaas net om deur mense gesien te word nie. GOD ken die motiewe van die hart, en om mense te verneder ter wille van jou eie eer is nie aanvaarbaar nie. Wanneer jy mense moet help, laat die Heilige Gees jou daarin lei. Jy sal ervaar of jy die hand na iemand moet uitreik of nie, en as jy dit gedoen het, laat dit wees, niemand het nodig om te weet nie ------- GEBED. VADER, wanneer ons die eer van mense soek, kan ons nie in dit wat ons doen, aan U die eer aan U gee nie, want onself wil deur die mense geeër word. U Woord is duidelik dat ons U eer nooit moet aanraak nie, en daarom vra ons vir Leiding deur U Heilige Gees in elke saak. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir gehoorsaamheid aan U Stem. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
Meer Plasings