JESAJA 40:29-31 AFR53
29. Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.
30. Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs;
31. maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.
***
Kern gedeelte:
"maar die wat op die Here wag"
So duidelik bevestig GOD dit in Sy Woord, maar daagliks in hierdie wêreld, in hierdie kits era waarin ons leef, word ons deur die media en deur skelm en geldgierige mense gedryf om onmiddelike besluite te maak.
Ons wil alles nou hê, en daardeur druk ons onself in skuld, maak ons swak besigheid en verhoudings besluite.
Ons word moeg deur dit waarmee die wêreld ons besig hou.
As ons pampoene plant weet ons dit vat 90-110 dae voor die oes reg is.
Ons kan nie vandag plant en môre oes nie.
GOD het reeds die saad in ons geplant, en nou moet ons eers deur die groei proses gaan, voor die oes in volheid sal kom.
Maar in haastigheid, eiesinnigheid en hardkoppigheid, gaan ploeg ons die land om en plant ons saad van die wêreld wat geen oes gaan oplewer nie.
As jy egter op GOD wag, sal jy nuwe krag kry, sal jou GOD gegewe oes ook in volheid na jou toe kom.
-------
GEBED.
VADER, in stille nabetragting sien ons die foute wat ons gemaak het deur van U plan vir ons lewe af te wyk. Omdat ons in ons ongeduld nie op U gewag het nie. Gee ons asb berusting oor elke saak en laat U Heilige Gees in ons, ons kalmte gee, en ons leer om geduldig te wag totdat die oes wat U voorberei het, in volle rypheid sal kom. Dankie dat U ons daagliks krag gee en versterk op ons lewenspad.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir U hand van beskerming oor ons lewe.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
Sel: +27716283107





