JEREMIA 9:4-6 AFR53

November 12, 2024

4. Pas op, elkeen vir sy vriend, en vertrou op geen broer nie; want elke broer is net 'n onderkruiper, en elke vriend gaan om met kwaadsprekery.

5. En hulle bedrieg elkeen sy vriend en praat nie die waarheid nie; hulle het hul tong geleer om leuens te praat, hulle maak hul moeg met verdraaiery.

6. Jou woning is in die midde van bedrog; deur bedrog weier hulle om My te ken, spreek die Here.


***


Kern gedeelte:

"Pas op, elkeen vir sy vriend, en vertrou op geen broer nie"


Of ons nou hou van vandag se boodskap, of nie.

Ongeag, dit is die realiteit van die lewe waarin ons lewe, en die mens wat ons daagliks mee moet deel.

Hoe gaan ons hierdie situasie reg hanteer sonder dat ons in wantroue deur die lewe gaan.

My raad is, bid tot GOD, vra dat Sy Heilige Gees elkeen se ware kleure te voorskyn sal bring, ons sal beskerm teen die onderkruipers, en die mense wat nie nie in ons lewe hoort nie, te verwyder.

Maar terselfde tyd, pasop met wie jy omgaan, dit is eers wanneer GOD jou oë open, dat jy die slange rondom jou sal raaksien.


-------


GEBED.


VADER, soos die spreekwoord sê, die makste honde byt die seerste en dikwels is ons die oorsaak van ons eie probleme omdat ons nie na U stem luister nie. Wanneer U 'n waarskuwing tot ons rig, gaan ons voort omdat ons, ons eie wil vir ons lewe najaag. Bring ons asb tot stilstand, open ons oë sodat ons kan sien dat ons reeds in die slangpit van die lewe staan.

In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir 'n gees van onderskeiding wat die waarheid kan sien agter elke masker.

Amen.


•••••••



Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za

E-pos: fanie.le@tentvansamekoms.co.za

Sel: (+27)(0)716283107

October 3, 2025
34. Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond. 35. Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn. 36. Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. 37. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word. *** Kern gedeelte: "uit jou woorde sal jy veroordeel word" Plaas 'n wag voor jou mond! In Spreuke 10 staan geskrywe dat in die veelheid van woorde, ontbreek die sonde nie en die mond van die regverdige is 'n fontein van lewe. Soms in die hitte van die oomblik wil ons iets kwytraak, wanneer die frustrasie begin oorkook. Waak egter daarteen want woorde kan nooit weer terug getrek word nie. Dit geld ook vir mense in jou lewe, pasop vir die man van vele woorde want daarin skuil die strikke van die lewe. In elke woord, in elke saak, bid vir bevestiging deur die Heilige Gees, en GOD sal die valsheid van die woorde aan jou openbaar. Wanneer jy egter praat, laat jou woorde 'n fontein van lewe wees. ------- GEBED. VADER, ons bid vir vergifnis van ons sonde, want ons gemoed is haastig in die woorde wat ons spreek. Tog leer U Woord ons dat selfs 'n sot wat swyg, kan as wys aangesien word. Beskerm ons teen die woorde van ons mond dat ons nie daardeur verstrik raak nie. Leer ons asb dat woorde kosbaar is en net gespreek moet word wanneer dit nodig is. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir woorde van wysheid en van seëninge vir ander. Amen. -------  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel+27716283107
October 2, 2025
12. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en 'n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. 13. En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. 15. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp. *** Kern gedeelte: "volgens hulle werke" Vandag is een van die boodskappe wat self spreek sonder dat ek veel hoef by te voeg, maar drie dinge is 'n realiteit al probeer soveel mense dit wegpraat. * Elkeen sal geoordeel word vir sy eie werke. * Die moontlikheid bestaan dat jou naam nie opgeskryf sal word in die boek van die lewe nie. * Die vuurpoel, die Hel is 'n realiteit. Mag vandag se boodskap, stof tot nadenke wees vir elkeen van ons, want voor GOD gaan ons elkeen vir sy eie dade verantwoording doen. ------- GEBED. VADER, dankie dat daar geen onduidelikheid is in U Woord nie. Elkeen van ons maak sy eie keuse, en elkeen staan pa vir dit wat hy in hierdie leeftyd doen. Help ons asb om die inwerking van U Heilige Gees te ervaar sodat ons daagliks daarna sal strewe om binne U Woord te lewe. Mag U Woord en U Naam nooit van ons lippe wyk nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir vergifnis van ons sondes, en bid ons vir siele tot bekering. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
October 1, 2025
1. HALLELUJA! Loof die Here, o my siel! 2. Ek wil die Here prys solank as ek lewe; ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek nog daar is. 3. Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. 4. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan. 5. Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die Here sy God, *** Kern gedeelte: "Ek wil die Here prys solank as ek lewe; ek wil psalmsing tot eer van my GOD" Vanoggend wil ek net vir jou sê, moenie GOD net prys wanneer dit goed gaan nie, maar prys GOD deurentyd. Loof en prys Sy Heilige Naam selfs in jou donkerste omstandighede. Roep uit tot GOD in jou omstandighede en dank Hom vir jou lewenspad vorentoe. 'n Pad van voorspoed, waar GOD jou binne Sy Wil sal lei. Jou omstandighede word verander wanneer jy selfs daarin, GOD se plan kan sien, die uitweg wat wag. Die donker in jou lewe verdwyn wanneer jy die Lig van JESUS CHRISTUS in jou lewe laat skyn. Staan vanoggend op, loof en prys Sy Heilige Naam, en kyk hoe die gety van omstandighede begin draai.  ------- GEBED. VADER, in alleen is ons vertroue en in U alleen is ons hoop. Daarom staan ons vanoggend op en ons loof en prys U Heilige Naam en gee aan U die eer. Ek is nie bekommerd oor my omstandighede nie, want U is nie net in my omstandighede nie, U is groter as my omstandighede, en deur U Woord word ons storms in 'n oomblik stil. In die Naam van ons Meester YESHUA, gee ons aan U die lof en die eer, selfs in die donkerste omstandighede. Amen. ••••••• Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
September 30, 2025
1. AS jy dan goed luister na die stem van die Here jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die Here jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. 2. En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die Here jou God. *** Kern gedeelte: "En al hierdie seëninge sal oor jou kom" Baie van ons kan nie verstaan hoekom GOD se Goedheid en Guns ons nie volg nie, maar dan moet ons dalk DEUTERONÓMIUM 28 stadig en aandagtig gaan deurlees en self ondersoek begin doen. Ek gaan nie die fout by ander soek nie, want waarskynlik lê die probleem ook dalk by my! Daarom, voor ek oordeel, gebruik ek eerder die geleentheid om seën en lewe oor ander mense se lewe te spreek. Ons kan ander kritiseer en vingers wys, maar onthou, daar sal altyd drie vingers terug wys na ons toe. Vandag wil ek vir jou sê, Mag die seëninge van DEUTERONÓMIUM 28 oor jou lewe kom, oor jou huis, jou gesondheid, jou finasies en oor jou kinders. Mag jy wat hierdie lees of luister, van vandag af, die kop wees en nie die stert nie, en mag jou vyande op sewe paaie voor jou uitvlug. Geseênd is jy in alles wat jy jou hand aan slaan. ------- GEBED. VADER, seën asb elkeen wat hierdie boodskap lees of luister, en mag U Goedheid en Guns hulle volg al die dae van hulle lewe. Mag elkeen van ons 'n Gees geleide lewe lei, en dat ons U Stem hoorbaar kan hoor en ons bid vir die gehoorsaamheid om daarop te reageer. Seën asb elkeen van ons se ingang en ons uitgang, en mag ons voete standvastig op die Rots gevestig wees. In die Naam van ons Meester YESHUA, spreek ons lewe oor elke situasie. Amen. ••••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
September 29, 2025
1. WEE die opstandige en die besoedelde, die verdrukkende stad. 2. Dit luister na geen stem nie, dit neem geen tugtiging aan nie; op die Here vertrou dit nie, tot sy God kom dit nie nader nie. 3. Sy vorste binne-in hom is brullende leeus; sy regters is aandwolwe wat niks vir die môre oorlaat nie. *** Kern gedeelte: "WEE die opstandige en die besoedelde" Is die bognoemde teksverse nie 'n akkurate beskrywing van die toestand van ons land nie, en tog beweeg ons as GOD se volk net verder en verder van Hom af weg. Deurlopend, deur die Woord van GOD, moes daar eers 'n strafgerig plaasvind, voordat die volk tot GOD sou nader. Ons kan heeldag daaroor kla of ons kan iets daaraan doen. Moenie rondloop en verkondig dat alles te laat is nie, maar laat elkeen van ons eers voor ons eie deur vee, en laat elkeen van ons die verandering in ons eie huis bring. Hoe verander ons sake in ons huise en ons land? * Deur te luister na GOD se Stem. * Deur GOD tugtiging aan te neem. * Deur ons vertroue weer in GOD te plaas. * Deur weer daagliks tot GOD te nader. Onthou, laat ons tot GOD nader, en Hy sal tot ons nader, niks is ooit te laat nie. ------- GEBED. VADER, U Woord is waarheid, maar soos deur die geskiedenis bewys, moet U volk eers struikel, ons moet eers val voor ons tot U sal nader en na U stem begin luister. Ons vra asb vir die krag om nie vir ander te wag nie, maar dat die verandering vandag by elkeen van ons sal begin, deur ons huise na die wêreld daar buite. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir die krag om op te staan en 'n verskil te maak waar dit binne ons mag is. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
September 26, 2025
17. En Ek sal die mense in benoudheid bring, en hulle sal rondloop soos blindes, omdat hulle teen die Here gesondig het; en hulle bloed sal vergiet word soos stof en hulle ingewande soos drek. 18. Hulle silwer of hulle goud sal nie in staat wees om hulle op die dag van die grimmigheid van die Here te red nie, maar deur die vuur van sy ywer sal die hele aarde verteer word; want Hy bring vernietiging, ja, 'n verskriklike, oor die inwoners van die aarde. *** Kern gedeelte: "Hulle silwer of hulle goud sal nie in staat wees om hulle op die dag van die grimmigheid van die Here te red nie" Met watter gedagtes het jy vanoggend wakker geword, en met watter gesindheid gaan jy hierdie dag in? Is jou vertroue volkome op GOD, of staan jy nog met een voet in die wêreld waar jy tans besig is om te steun op die arm van vlees. As jy meer bevoorreg is as die volgende persoon, moenie geld jou god maak nie, want dit gaan jou nie in die hemel bring nie. Ons geloof in JESUS CHRISTUS, en gehoorsaamheid aan GOD se gebooie is wat jou in hemel sal inbring. Die res is genadegawes van GOD waarmee jy geseën is. Moenie 'n afgod maak van dit wat GOD jou meë geseën het nie. Dien GOD met 'n volkome hart en soek jou wysheid en insig slegs by Hom alleen. ------- GEBED. VADER, ons bid vanoggend vir nederigheid, nederigheid en nederigheid sodat ons sal weet waar ons hulp vandaan kom. Gee ons asb die krag om nooit te dink dat dit wat die wêreld bied, groter is as U nie. U is ons Rots en ons Vesting, ons GOD op wie ons vertrou. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir vergifnis van ons sondes, selfs vir die onwetende sondes in ons lewe. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel+27716283107
Meer Plasings