JEREMIA 24:5-7 AFR53
5. So spreek die Here, die God van Israel: Soos hierdie goeie vye, so sal Ek ten goede aansien die ballinge van Juda wat Ek uit hierdie plek na die land van die Chaldeërs weggestuur het;
6. en Ek sal my oog op hulle slaan ten goede en hulle terugbring in hierdie land; en Ek sal hulle bou en nie afbreek nie, en hulle plant en nie uitruk nie.
7. En Ek sal hulle 'n hart gee om My te ken, dat Ek die Here is; en hulle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees, want hulle sal na My terugkeer met hul hele hart.
***
Kern gedeelte:
"en Ek sal my oog op hulle slaan ten goede"
Ons mag miskien twyfel oor GOD se plan vir ons lewe, maar weet dat Hy alles ten goede sal laat meewerk vir die wat op Hom vertrou!
Hier sê GOD vir die mense van Juda om na die land van die Chaldeërs te gaan en dat Hy Sy Oog op hulle sal slaan ten goede.
Die verandering, die skuif wat jy moet maak is tydelik, sodat jy in GOD se beskerming mag wees in die tyd wat kom, want as jy besluit om jou eie kop te volg gaan dit jou tot skade en ellende wees.
Selfs al lyk die situasie, die toekoms ellendig, weet dat as jy kies om GOD te vertrou, dat Hy jou sal deurdra en jy sal weer die goeie sien.
Moenie dat jou huidige gemaksone jou verhoed om in GOD se plan te te beweeg nie, want buite sy plan beteken bloot dat jy buite Sy Hand van beskerming sal wees.
As jy moet verander van plan, as jy moet wegbeweeg, doen dit wat GOD op jou hart lê en weet dat GOD Sy oog op jou slaan ten goede en jou terugbring in hierdie land; en GOD sal jou bou en nie afbreek nie, en jou plant en nie uitruk nie.
-------
GEBED.
VADER, dankie dat U deure toemaak om ons te help om binne U plan vir ons lewe te bly. Lei ons asb vanoggend deur hierdie moeilike besluit en gee ons asb die krag en die insig om binne U Wil, die regte besluit te maak. Laat ons nie probeer om toe deure wat moet toebly, oop te forseer nie.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir krag, wysheid en insig om die regte besluite te neem.
Amen.
•••••••





