II KORINTHIËRS 4:3-4 AFR53

August 2, 2024

3. Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan,

4. naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.


***


Kern gedeelte:

"is dit bedek in die wat verlore gaan"


Nader tot GOD en Hy sal tot jou nader, staan daar geskrywe in SY Woord.

As die Woord van GOD vanoggend nie vir ons sin maak nie, of ons stel nie daarin belang nie, is dit waarskynlik omdat ons sinne nog verblind is deur die "verderwer" die god van hierdie wêreld.

Namate ons tyd spandeer in GOD se Woord, met 'n hart wat in waarheid na HOM soek, sal die Heilige Gees die sluier lig, sal die Heilige Gees ons leer wat ons moet weet.

Maar as die Bybel nog toe lê in jou huis, en jy al jou tyd aan wêreldse dinge bestee, weet dan dat jy verblind sal bly, en die Lig van JESUS CHRISTUS sal nie in jou begin skyn nie.

Soos die Woord sê, as die evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan.


-------


GEBED.



VADER, open asb vanoggend ons geestelike oë, ore, hart en verstand sodat U Woord tot ons sal deurdring. Laat ons asb nie kies, om nie gekies te word nie. Ruk ons asb uit die vuur van sonde as dit nodig sou wees.

In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir elkeen wat voel dat daar geen hoop meer is nie. Versterk elkeen asb.

Amen.

September 12, 2025
5. Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. 6. Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my 'n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal 'n mens aan my doen? *** Kern gedeelte: "Die Here is vir my 'n Helper" In die lewe gaan ons mense teëkom wat dink dat alles en almal het 'n prys, en hulle kan ander mense se lewens met geld manupileer, omdat hulle self deur geldgierigheid gedryf word. Maar as ons die teks gedeelte noukerig lees sal jy die bevestiging van GOD se getrouheid en voorsiening raaklees wanneer Hy vir ons sê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Moenie deur mense aan die neus rond gelei word nie, en moenie toelaat dat jy deur ander se gierigheid meegesleep word nie. GOD het jou tot hierdie gedra en Hy sal voorsien in jou daaglikse brood. Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my 'n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal 'n mens aan my doen? ------- GEBED. VADER, my gebed is eenvoudig, gee ons asb ons daaglikse brood, nie 'n maand se brood vooruit nie, sodat ons vertroue slegs in U sal wees en dat ons nie sal steun op die arm van vlees nie. Lei ons asb in U spore van geregtigheid. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir U leiding sodat ons nie in strikke van geldgierig sal trap nie. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
September 11, 2025
14. Want die Here jou God wandel midde-in jou laer om jou te red en jou vyande aan jou oor te gee; daarom moet jou laer heilig wees, sodat Hy niks skandeliks by jou mag sien en Hom van jou afwend nie. *** Kern gedeelte: "en Hom van jou afwend nie" In die Woord van GOD staan geskrywe, wees heilig, want Ek is Heilig, en daarom moet ons daagliks ons motiewe, denkwyse, woorde en optrede, wat soms ver te kort skiet, ondersoek, sodat GOD se Heilige Gees Hom nie sal ontrek van ons lewe, omdat Hy iets afstootlik in ons lewe, ons huis gevind het nie. Een ding wat ons duidelik moet verstaan, jy kan in hierdie lewe alleen teen die wêreld staan as GOD nie met jou is en Sy Heilige Gees versterk jou op jou lewenspad, jy sal miskien val maar GOD sal jou weer oprig deur Sy Reddende Regterhand. Die Lig en die duisternis meng nie, dit is of die een, of die ander. Ons moet kies of ons dit wat afstootlik is, uit ons lewe gaan verwyder en of ons alleen teen die wêreld gaan probeer staan. Die laasgenoemde word nie aanbeveel nie! ------- GEBED. VADER, ons mag dalk dink dat ons alleen teen die wêreld, teen die aanslae van die "verderwer" kan staan, want U beskerm ons, self waar ons nie eers daarvan bewus is nie. Maar ons besef dit eers wanneer U, U Heilige Gees van ons ontrek het. Ons vra dat U ons tekortkomimge aan ons sal uitwys sodat ons dit wat nie moet wees nie, uit ons lewe sal verwyder. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir die teenwoordigheid en ondersteuning van U Heilige Gees in ons lewe. Amen. ••••••• Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
September 10, 2025
11. So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. 12. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. 13. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. 14. Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade. *** Kern gedeelte: maar stel julleself tot beskikking van GOD. Hoe doen mens dit in hierdie deurmekaar, verdraaide en sondige wêreld? Die volgende drie vrae help my baie wanneer ek voor besluite, voor die kruispaaie van die lewe staan. 1. Hoe sou JESUS dit hanteer het? 2. Is dit wat ek nou doen of gaan doen ter ere van GOD? 3. Is die besluit wat ek nou gaan neem, binne GOD se geregtigheid, volgens Sy onpartydige opregtheid. Die maklike keuse is om aan wêreld gelykvormig te word, om te handel en wandel soos die kinders van die verderf. Maar dit vat rugraat en integriteit om op te staan en nee te sê vir dit wat verkeerd is, vir dit wat nie moet wees nie. Onthou verkeerd bly verkeerd, selfs as die oorgrote meerderheid dit doen, en reg bly reg, selfs wanneer niemand dit doen. Staan op, staan vas en staan uit, neem 'n standpunt in, en sien hoe GOD jou bekragtig. ------- GEBED. VADER, dit word al hoe moeiliker om die regte dinge te doen want die wêreld waarin leef is so verdraaid deur die leuens van die "verderwer" dat sonde, ongeregtigheid en leuens as normaal beskou word. Daarom vra ons, dat U Heilige Gees ons oë sal verlig vir die waarheid, sodat ons, ongeag wat, binne U onpartydige opregtheid sal lewe. Gee ons asb die krag om in U Waarheid vas te staan ten spyte van die aanslae van die "verderwer". In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir elkeen in nood, en ons vra dat U sal voorsien in elkeen se daaglikse brood. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
September 9, 2025
19. Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar 'n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook 'n slaaf geword. 20. Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste. 22. Maar oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol. *** Kern gedeelte: "want waar 'n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook 'n slaaf geword" Ons almal kan met vroom gesigte rondloop en 'n lewe van voorgee lewe, maar en ding is seker, GOD ken ons gedagtes en die begeertes van ons hart. Maar weet dit, dit is net 'n kwessie van tyd voor die krake begin wys, voordat die sonde deurbreek en dan is daar geen keer meer daaraan nie. Dit is wanneer ons daardeur verswelg word, dan word die sinnetjie toepaslik wat sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol. As jy vanoggend voel dat jy besig is om van GOD af weg te dwaal nadat jy reeds JESUS CHRISTUS as jou Verlosser en Saligmaker aanvaar het, besef net een ding! As jy met vuur speel, gaan jy brand! Los dit waarmee jy besig is, bely dit voor GOD, terwyl jy nog die kans het, voordat dit te laat is. ------- GEBED. VADER, soos die mot om die kers, glo ons ook dat ons met sonde kan speel sonder om te brand. Spyt is 'n goeie ding maar kom altyd te laat en daarom bid ons vanoggend vir die krag en openhartigheid om ons sondes voor U te bely en dan weg te stap daarvan. Versterk ons asb deur die inwerking van U Heilige Gees sodat ons nie weer in dieselfde strikke van die lewe sal trap nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir krag om staande te bly in tye van versoeking. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
September 8, 2025
7. Maar ek sal uitsien na die Here, ek wil wag op die God van my heil, my God sal my hoor. 8. Wees nie bly oor my nie, o my vyandin! Al het ek geval, ek staan weer op; al sit ek in duisternis, die Here is 'n lig vir my. 9. Die toorn van die Here sal ek dra, want ek het teen Hom gesondig; totdat Hy my saak verdedig en my reg verskaf. Hy sal my uitlei in die lig; ek sal met welgevalle sien hoe Hy geregtigheid oefen. *** Kern gedeelte: "Al het ek geval, ek staan weer op; al sit ek in duisternis, die Here is 'n Lig vir my" Vandag wil ek jou bemoedig en vir jou sê, die storm hou nie vir ewig aan nie. Maar weet ook dit, dat as jy voor die storm probeer uitvlug, sal die storm jou inhaal, wanneer jy geestelik uitgeput is en dan is sake soveel erger. Staan op in geloof, verklaar dat GOD jou ook hierdeur sal dra, spreek die storm aan in die Naam van JESUS CHRISTUS. Al val jy, jy sal weer opstaan, al raak dinge moeilik, deur gebed sal jy krag kry om enige situasie te oorkom. Moenie moed verloor nie, ook hierdeur sal GOD jou dra. Jy sal staande anderkant uitkom, die Lig van uitkoms sal vir jou deurbreek, en die son sal weer skyn. Moet net nie moed opgee nie. ------- GEBED. VADER, vanoggend sien ons dalk nie meer 'n uitkoms nie en alles lyk of dit verlore is. Ons het egter nie in eiewysheid beweeg nie, maar ons het die eerste tree in geloof geneem en vertrou U vir die res. Laat dit wees soos dit U behaag, en al val ons, weet ons dat U ons weer sal oprig deur U Reddende Regterhand. Versterk ons asb sodat twyfel en vrees nie vatplek kry is ons lewe nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir krag om staande te bly en voort te beur deur hierdie storm waarin ons, ons tans bevind. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel+27716283107
September 5, 2025
13. As ek dan nou genade in u oë gevind het, maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind. En bedink tog dat hierdie nasie u volk is. 14. En Hy antwoord: Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf? 15. Toe sê hy vir Hom: As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie. *** Kern gedeelte: "As U nie self meegaan nie" Hierdie moet nie net 'n paar woorde in GOD se Woord wees nie, maar ons hele lewens bestaan moet daarop gevestig wees. Voor jy iets doen, vra hoe sou JESUS CHRISTUS dit gedoen het, hoe sou Hy die saak hanteer het, en sou Hy by sekere plekke ingegaan het, waar jy tans ingaan. GOD gaan jou nie forseer nie, en die verandering moet van jou kant af kom. As jy binne gehoorsaamheid aan GOD se Woord lewe, sal jydie nodige leiding ontvang deur die inwerking van die Heilige Gees. Dan sal Sy Woord 'n Lamp vir jou voet en 'n Lig op jou pad wees. ------- GEBED. VADER, ook in hierdie oggend moet ons bieg dat ons daaglik dinge aanpak wat U nie goedkeur nie, en ons gaan waar U Heilige Gees ons nie kan lei nie. Vergewe ons asb daarvoor en lei ons asb binne U Wil, op U pad van onpartydige opregtheid. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir die teenwoordigheid van U Heilige Gees in ons lewe. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel:+27716283107
Meer Plasings