II KONINGS 4:2-4 AFR53
2. Toe sê Elísa vir haar: Wat kan ek vir jou doen? Gee my te kenne wat jy in die huis het. En sy antwoord: U dienares het glad niks in die huis nie, behalwe 'n flessie met olie.
3. En hy sê: Gaan leen vir jou van buite af kanne, leë kanne van al jou bure; leen nie te min nie.
4. Gaan dan in en sluit die deur agter jou en jou seuns toe, en giet in al daardie kanne en sit weg wat vol is.
***
Kern gedeelte:
"Gaan dan in en sluit die deur agter jou en jou seuns toe"
Jy het nie 'n skare mense nodig wanneer jy dit gaan doen wat GOD op jou hart gelê het nie.
Ek het dikwels gewonder hoekom die weduwee, die deur agter haar en haar seuns moes toesluit.
Namate ek ouer geword het, en die natuur van die mens leer ken het, het ek besef dat dit nodig is om die deur agter jou te sluit, en dat jy eers dit wat GOD op jou hart gelê het moet klaarmaak, want in die twyfel van die toeskouers, sal hulle jou ontmoedig, jou uit jou wonderwerk uitpraat.
Dus, staan op in geloof, sluit die deur agter jou toe, en maak dit klaar wat GOD op jou hart geplaas het.
Jou kanne sal ook vol word, as jy in geloof beweeg.
-------
GEBED.
VADER, hoe dikwels stel ons meer in mense se opinies belang as om net voor te gaan, die deur agter ons te sluit, en te doen wat U op ons hart gelê het. U Woord sê dat ons nie op die arm van vlees mag steun nie, en dit is ook die waarheid dat elke persoon ons in 'n ander rigting sal wil stuur, omdat ons eerder na die opinies van die mens wil luister as na die Woord van GOD. Gee ons asb die krag om voort te gaan soos dit U behaag.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U boodskap aan ons duidelik sal wees, aangaande dit wat ons moet doen.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
E-pos: fanie.le@tentvansamekoms.co.za
Sel: (+27)716283107





