HANDELINGE 19:15-17 AFR53
15. Maar die bose gees het geantwoord en gesê: Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?
16. Toe spring die man in wie die bose gees was, op hulle en oormeester en oorweldig hulle, sodat hulle naak en gewond uit daardie huis gevlug het.
17. En dit het bekend geword aan al die Jode en Grieke wat in Éfese woon, en vrees het op hulle almal geval, en die Naam van die Here Jesus is groot gemaak.
***
Kern gedeelte:
Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?
Ek kan nie anders help as om te wonder of hierdie vraag ook deur die demone van die "verderwer" aan ons gevra sal word in hierdie dag nie.
Wanneer ons in konfrontasie met die wêreld staan, gaan dit nie help as jy net van JESUS CHRISTUS weet nie, anders gaan jy ook oorweldig word en naak wegvlug.
Toe Dawid voor Goliat gaan staan het, het hy nie daar net as Dawid gaan staan nie, maar as 'n toegewyde kind van GOD wat sy krag en sy sterkte van GOD verwag, en met die vertroue dat geen vyand of probleem groter as GOD is nie.
Daarom is dit nodig dat ons nie wankel in ons geloof nie en dat ons beklee sal wees met die volle wapenrustig van GOD.
As jy vanoggend opstaan om hierdie dag in te gaan, moet jy opstaan in die outoriteit waarmee GOD jou beklee, want sonder dit gaan jy ook deur die wêreld oorweldig word en sonder dit gaan jy ook naak wegvlug.
-------
GEBED.
VADER, soms word ons moeg om daagliks teen die aanslae van die wêreld op te staan, omdat ons dit in eie krag probeer beveg, dit in ons eie krag probeer hanteer. Gee ons asb die insig om die situasie vandag anders te hanteer, gee asb dat ons elke situasie sal hanteer in die Naam van ons Verlosser en Saligmaker, en dat ons sal beweeg in die krag van ons GOD, want U is ons Rots en ons Sterkte.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bestraf ons elke aanslag wat op lewenspad geplaas word deur die "verderwer".
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
Sel: +27716283107





