DEUTERONÓMIUM 32:12, 15, 18 AFR53
12. die Here alleen het hom gelei, en daar was geen vreemde god by hom nie.
15. Toe het Jesúrun vet geword en agterop geskop — jy het vet geword, dik geword, spekvet geword — en hy het God verwerp wat hom gemaak het, en die steenrots van sy heil geminag.
18. Die Steenrots wat jou verwek het, het jy veronagsaam; en jy het die God vergeet wat jou voortgebring het.
***
Kern gedeelte:
"en hy het God verwerp wat hom gemaak het"
Hoeveel keer het ek dit nie gesien nie, toegewyde kinders van GOD, wat van GOD af weggedryf het, die oomblik toe GOD hulle seën.
Soos die seëninge van finansies, van geld by die voordeur ingestroom het, het dit hulle verhouding met GOD by die agterdeur uit gedruk.
Die rede daarvoor is die skyn van voorspoed godsdiens, waar ons voorgegee het dat ons GOD dien ter wille van wat GOD vir ons kan doen.
As GOD die toets van seëninge oor jou pad bring, bly nederig voor GOD, en onthou eerder waar jy vandaan kom en uit watter situasie GOD jou uitgehelp het.
Onthou, soos GOD gegee het, so kan Hy ook weer neem!
-------
GEBED.
VADER, in hierdie oggend besef ons opnuut, hoe geld ons persoonlikhede kan verander, ons prioriteite verander, waar ons U nie meer eerste stel in ons lewe nie. Ons neem U seëning in ons lewe as vanselfsprekend en U seëninge aan ander mense wat deur ons moes gevloei het, lê nog by ons voete. Laat U Heilige Gees vandag ons tot stilstand ruk sodat ons, ons uitkyk en persepsie sal verander, sodat U weer ons eerste prioriteit sal word.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir die stilte en kalmte in ons lewe waar U ons weer op die regte pad kan terugbring.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
Sel: +27716283107






