DANIËL 5:22-23 AFR53
22. Maar u, Bélsasar, sy seun, het u hart nie verneder nie, alhoewel u dit alles weet;
23. maar u het u verhef teen die Here van die hemel, en die voorwerpe van sy huis het hulle voor u gebring; en u en u maghebbers, u vroue en u byvroue het wyn daaruit gedrink; en u het die gode van silwer en goud, koper, yster, hout en klip geprys, wat nie sien en nie hoor en nie weet nie, maar die God in wie se hand u asem en voor wie al u paaie is, Hom het u nie vereer nie.
***
Kern gedeelte:
"Hom het u nie vereer nie"
Alle eer aan GOD!
Hierdie is 'n waarskuwing dat die gees van trotsheid wat in ons opbou, onmiddelik aangespreek moet word.
Trots, die "eie ek" in ons lewe, het 'n sneeubal effek, en met die draai van elke dag word dit groter en as dit eers momentum optel teen die afdraende van die lewe kan dit nie meer gestop word nie.
Dit sal buite beheer vir jou wegrol en groter en groter word tot dit botsend tot stilstand kom en in stukke spat.
As ons GOD se eer aanraak, sal die "eie ek" groei tot ons lewe ook so in stukke spat.
Spyt is 'n goeie ding, maar kom altyd te laat.
Moenie eers wag tot die Woorde van GOD jou bereik nie, woorde wat sê:
Jy is geweeg maar is te lig bevind nie.
Nou dat ons daarvan weet, laat ons, ons hart verneder en die eer gee aan HOM wat dit toekom!
-------
GEBED.
VADER, vergewe ons asb ons hooghartigheid en verwyder die "eie ek" wat besig is om vat plek te kry. Almal van ons wil geprys word as ons goed doen, maar laat ons altyd onthou Wie dit vir ons moontlik gemaak het. Laat ons besef, as die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs bou die bouer. Ons loof, prys en dank U vir elke gawe en geleentheid uit U Hand.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir drie dinge, nederigheid, nederigheid en nederigheid.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
E-pos: fanie.le@tentvansamekoms.co.za
Sel: (+27)(0)716283107





