MATTHÉÜS 6:9-14 AFR53

June 27, 2025

9. Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word;

10. laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;

11. gee ons vandag ons daaglikse brood;

12. en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;

13. en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.


Amen.


***


Kern gedeelte:

"laat u wil geskied"

Soveel van ons mis nog hierdie punt:

Dit is nie ons wil in GOD se lewe nie,

maar GOD se Wil in ons lewe.

En deur weerstand te bied, die sonde nie te laat gaan nie, stap ons deur die woestyn paaie van die lewe.

Dink net so oomblik in nabetragtig oor dit wat ek vanoggend sê.


-------


GEBED.

VADER, ons bid die gebed, soos U Seun ons geleer het, maar as ons klaar is, vergeet ons onmiddelik die deel wat sê, laat U Wil geskied. 

Leer ons asb vandag wat U Wil is, en maak ons oë oop vir ons eie foute.

In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir gehoorsaamheid aan U Woord.

Amen.



•••••••

Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za

Sel: +27716283107

September 26, 2025
17. En Ek sal die mense in benoudheid bring, en hulle sal rondloop soos blindes, omdat hulle teen die Here gesondig het; en hulle bloed sal vergiet word soos stof en hulle ingewande soos drek. 18. Hulle silwer of hulle goud sal nie in staat wees om hulle op die dag van die grimmigheid van die Here te red nie, maar deur die vuur van sy ywer sal die hele aarde verteer word; want Hy bring vernietiging, ja, 'n verskriklike, oor die inwoners van die aarde. *** Kern gedeelte: "Hulle silwer of hulle goud sal nie in staat wees om hulle op die dag van die grimmigheid van die Here te red nie" Met watter gedagtes het jy vanoggend wakker geword, en met watter gesindheid gaan jy hierdie dag in? Is jou vertroue volkome op GOD, of staan jy nog met een voet in die wêreld waar jy tans besig is om te steun op die arm van vlees. As jy meer bevoorreg is as die volgende persoon, moenie geld jou god maak nie, want dit gaan jou nie in die hemel bring nie. Ons geloof in JESUS CHRISTUS, en gehoorsaamheid aan GOD se gebooie is wat jou in hemel sal inbring. Die res is genadegawes van GOD waarmee jy geseën is. Moenie 'n afgod maak van dit wat GOD jou meë geseën het nie. Dien GOD met 'n volkome hart en soek jou wysheid en insig slegs by Hom alleen. ------- GEBED. VADER, ons bid vanoggend vir nederigheid, nederigheid en nederigheid sodat ons sal weet waar ons hulp vandaan kom. Gee ons asb die krag om nooit te dink dat dit wat die wêreld bied, groter is as U nie. U is ons Rots en ons Vesting, ons GOD op wie ons vertrou. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir vergifnis van ons sondes, selfs vir die onwetende sondes in ons lewe. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel+27716283107
September 25, 2025
4. Kyk, sy siel is opgeblase in hom en nie reg nie. Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe. 5. En bowendien, die wyn is 'n bedrieër, 'n trotse man is onbestendig: hy wat sy keel wyd oopmaak soos die doderyk, en soos die dood is hy, so onversadelik — hy vergader vir homself al die nasies en maak vir hom al die volke bymekaar. 9. Wee hom wat vuil gewin maak vir sy huis, om sy nes in die hoogte te bou, om homself te red uit die greep van onheil. *** Kern gedeelte: "Wee hom wat vuil gewin maak vir sy huis" As daar een ding is waarvan jy seker kan wees is dit die volgende! Een onregverdige sent, vergeld tien duisend regverdige sente. Miskien het jy vandag daarmee weggekom, en miskien sal jy ook môre daarmee wegkom, maar weet die arm van GOD is nooit te kort nie. Die een of ander tyd gaan dit jou inhaal, en dan moet jy nie vra hoekom nie, want die antwoord gaan in jou eie hand wees. Moet dan nie vra hoekom jou verdienste soos water deur jou vingers glip nie, en hoekom jou werke nie geseënd is nie. Want jy het gekies om jou fondasie op ongeregtigheid te bou! En hierdie woorde is op ons almal van toepassing! ------- GEBED. VADER, leer ons asb hoe om in U pad van geregtigheid te lewe, en om ander te behandel soos ons behandel wil word. U Woord is duidelik, ons kan kies watter pad ons wil stap. Die pad van geregtigheid of die pad van ongeregtigheid. As ons die pad van ongeregtigheid kies, laat ons dan nie vra hoekom U Goedheid en U Guns ons nie meer volg nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir die krag om aan te hou om die regte dinge te doen, selfs waar niemand sien nie. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel+27716283107
September 24, 2025
20. Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid 21. en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag. 22. En aan sommige wat twyfel, moet julle barmhartigheid bewys; 23. maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk; en ook die kleed moet julle haat wat deur sonde bevlek is. *** Kern gedeelte: "maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk" Ons lewe in 'n tyd en era waarin mense so gebreinspoel is dat hulle glo dat die "oor" streling van die mens, die liefde van GOD is. Die realiteit is net net die teenoorgestelde! Jy moet GOD se Woord in waarheid spreek, sagmoedig en self beheersing. Die antwoord, nee beteken nog nee, al sê ek dit in liefde. Met sagmoedigheid, en in liefde sê ek vandag vir jou, bekeer jou van jou sondige weë, en dan kom jy terug, maar jy bring nie jou wêreldse weë en gewoontes in my huis in nie. Ek ruk jou uit die vuur deur dit vir jou duidelik te maak, dat 'n lewe weg van GOD af, gaan jou helwaarts lei, maar jy het nog vandag die keuse in JESUS CHRISTUS. Ek sê dit nie om jou te kritiseer nie, maar as ek dit nie vir jou sê nie, bly die bloed op my hande. Spreek die waarheid, tugtig en vermaan, en ruk die uit die vuur wat blindelings helwaarts stap. ------- GEBED. VADER, gee asb aan ons die krag, deur die inwerking van U Heilige Gees om te staan vir die waarheid van U Woord, en gee asb aan ons die vermoë om die waarheid in liefde te spreek. Maar maak ons ook asb sterk, sodat ons die sonde op die naam sal noem, sodat ons nie mense se ore sal streel om in die gewildheid van die wêreld te staan nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat slegs die waarheid van U Woord oor ons lippe sal gaan. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
September 23, 2025
6. Want kyk, Ek gaan die Chaldeërs opwek, daardie kwaai en onstuimige nasie wat trek deur die wydtes van die aarde, om wonings in besit te neem wat aan hom nie behoort nie. 7. Verskriklik en gedug is hy, van homself gaan sy reg en hoogheid uit. 12. IS U dan nie uit die voortyd nie, o Here, my God, my Heilige? Ons sal nie sterwe nie. Here, tot 'n strafoordeel het U hom bestel en, o Rots, tot 'n tugroede het U hom bestem! *** Kern gedeelte: "tot 'n tugroede het U hom bestem!" Dikwels wanneer ons in situasies op-eindig waar daar geen reg en geregtigheid is nie, is dit juis vir ons tot tugtiging, vir ons tot lering, vir ons tot strafoordeel. Moenie dat hierdie situasie waarin jy jouself bevind tot jou nadeel sal wees nie, maar leer om GOD se Geregtigheid, Sy onpartydige opregtheid in elke saak te soek. Leer daaruit, sodat wanneer jy in die toekoms in beheer van sake is, jy nie dieselfde roete sal volg, weer die weg van ongeregtigheid sal soek nie. Ja, soos die Chaldeërs opgewek is teen die volk van GOD, so sal mense deur GOD in plek geplaas word, sodat jy deur hulle tot die pad van geregtigheid kan kom. Moet dit nie as 'n straf sien nie, maar gebruik die situasie om jouself te verbeter op elke moontlik vlak, en laat die probleem jou leer hoe om weer nader aan GOD te kom. ------- GEBED. VADER, vir alles en almal is daar 'n doel, soms juis om ons te leer hoe ons nie moet lewe nie. Ons leer dalk deur ander, hoe ons mense, nie moet behandel nie. Openbaar asb aan ons die doel van hierdie les, die doel van hierdie beproewings tydperk waardeer ons moet gaan. Gee ons asb die krag om sterker anderkant uit te stap, en dan te leef ter ere van GOD. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U ons sal versterk in hierdie tyd van beproewing. Laat dit vir ons tot lering wees. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
September 22, 2025
13. En Elía sê vir haar: Wees nie bevrees nie, gaan heen, doen volgens jou woord; maar maak eers daarvan vir my 'n broodkoekie en bring dit uit vir my; daarna kan jy vir jóú en jou seun iets klaarmaak. 14. Want so sê die Here, die God van Israel: Die meel in die pot sal nie opraak en die olie in die kruik sal nie minder word nie, tot op die dag dat die Here reën op die aarde sal gee. *** Kern gedeelte: "Wees nie bevrees nie, gaan heen, doen volgens jou woord" Hoeveel van ons mis ons deurbrake omdat ons, ons vastaar in ons beperkinge, in die bietjie wat ons het. Ons glo en spreek, dat na die dag van môre is ons ook daarmee heen, het ons ook ons einde bereik. Ons spreek eerder negatiewiteit oor ons lewe en omstandighede en glo nie dat GOD sal voorsien in ons daaglikse brood nie. Hier is die waarheid, hou op twyfel, staan op en loop die pad wat GOD vir jou uitgelê. GOD sal jou nie stuur, waar Hy nie sal voorsien nie, maar jy moet opstaan, en die eerste tree in geloof neem, en dan sal jy sien hoe die meel in die pot sal nie opraak en die olie in die kruik sal nie minder word nie. -------- GEBED. VADER, in hierdie oggend bely ons, ons sonde van twyfel, onsekerheid en wantroue. Dit is menslik dat ons nie U plan vir ons lewe verstaan nie en daarom word ons deur ons twyfel oorheers. Ons vra dat U Heilige Gees ons sal lei binne U Wil, op die pad wat lei tot ons deurbraak wat U vir ons daar gestel het. Dankie dat die olie en die meel nie sal opraak totdat U die deurbraak, die reëns van U seëninge gestuur het nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U met ons sal wees elke tree van die lewenspad. Amen. ••••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
September 19, 2025
16. EN daar kom een na Hom en sê vir Hom: Goeie Meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê? 17. En Hy sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik God. Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie. *** Kern gedeelte: "Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie" As jy daarna strewe om binne GOD se geregtigheid te lewe, binne Sy onpartydige opregtheid, moet dan nie die tien gebooie net lees nie, maar pas dit toe, elke tree van jou lewenspad. Dan sal jy in jou weë geseënd wees! Beklee jou met GOD se Woord, laat dit sigbaar wees in jou handel, jou wandel, in jou spraak en jou optrede. Wanneer jy jou beklee met GOD se Woord, gehoorsaam is aan Sy opdragte, en ons, ons geloof in JESUS CHRISTUS bewaar, sal die Lig van Verlossing deur ons skyn vir ander om te sien. Laat jou lig skyn vir die wêreld om te sien, en versprei die Evangelie van ons Verlosser, elke tree van die lewenspad. ------- GEBED. VADER, U maak dit vir ons so duidelik in U Woord, As julle My liefhet, onderhou my gebooie, want in die onderhouding van U gebooie, sal ons U onpartydige opregtheid vind. Laat ons nie daaroor argumenteer nie, want U Woord is suiwer en U opdragte volmaak. Laat elkeen kies wat hulle wil doen, maar ek en my huis, ons sal die HERE dien. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U Heilige Gees ons sal lei hoe om binne die bepalings van U Woord te wandel. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
Meer Plasings