LUKAS 18:13-14 AFR53

June 9, 2025

13. En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig!

14. Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.


***


Kern gedeelte:

"want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word"


Soms maak ek net verskoning en stap uit die gesprek, die geselskap en uit die vertrek uit, want daar is nie genoeg plek vir my, die persoon met wie ek gesels, en sy ego van die "eie ek" nie.

Wanneer ons nog so vol van onself is, is daar nie plek vir GOD in ons lewens nie, en hoe sal die Heilige Gees in ons lewe inspreek, wanneer ons eiewysheid deur ons eie stem aangevuur word.

Moenie te hoog probeer vlieg nie, en moenie jouself verhoog nie want GOD haat trotse oë.

Hoogmoed kom voor die val, want eers dan word ons stem stil, gaan ons ore oop, sodat ons na GOD se stem kan luister.

Eers dan leer ons ook om te sê:

o GOD, wees my, sondaar, genadig!


-------


GEBED.


VADER, in 'n oogwink kruip trots en die "eie ek" weer terug in ons lewe in. Ons wil so graag deur mense gesien en geprys word en kortliks staan ons weer op die verhoog van valse toneelspel, waar ons die wêreld se goedkeuring wil wegdra. Gee asb aan ons die krag om vandag van hierdie pad weg te draai sodat ons sal besef, dat alles wat ons is, is slegs deur U genade. Sodat ons ook sal bid, o GOD, wees my sondaar genadig!

In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir nederigheid, nederigheid en nederigheid voor U.

Amen.


•••••••



Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za

Sel: +27716283107

July 24, 2025
12. Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het. 17. En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou. *** Kern gedeelte: "met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het" As jy die gebooie van GOD en die Getuienis, die Evangelie van JESUS CHRISTUS glo en verkondig, dan moet jy nie simpatie van die "verderwer" verwag nie. Die Woord van GOD maak dit duidelik dat hy rond loop soos 'n brullende leeu en soek na wie hy kan verslind. Let op, soos 'n brullende leeu. As jy jou standvastigheid in GOD vind, sal die gebrul van die "verderwer" verander van vrees wat jou lamlê, na nuttelose geraas in jou lewe wat geen effek op jou het nie. Aanslae en vals aantuigings sal na jou kant toe kom, maar as ons vers 11 lees, dan staan daar: En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie. Onthou, jou oorwinning lê in die bloed van die Lam! ------- GEBED. VADER, hoe dikwels lewe ons in vrees, voel ons dat ons nie goed genoeg is nie, lei ons aan 'n swak selfbeeld, en alles deur die leuens van die "verderwer". Laat hierdie waarheid asb by ons insink dat ons oorwinning lê in die bloed van die Lam. As ons U Seun aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker, sal ons U in onpartydige opregtheid wil lewe, deur U gebooie te onderhou. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons 'n 'n nuwe dag, 'n nuwe begin in ons lewe. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
July 23, 2025
29. dan moet die Leviet kom — omdat hy geen deel of erfenis saam met jou het nie — en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is, en hulle moet eet en versadig word, sodat die Here jou God jou kan seën in al die werk van jou hand wat jy doen. *** Kern gedeelte: "sodat die Here jou God jou kan seën" Soos jy met 'n oop hand gee, so sal jy ook met 'n oop hand ontvang. Die misbruikers en die wat op jou gevoel probeer speel sal daar altyd wees, maar daar is mense wat werlik hulp nodig het. Dit maak aan my geen saak hoe groot jou amp is, hoe belangrik jy dink jy is, of hoe ryk jy is nie of hoe goed jy jou probeer voordoen nie. Hoe jy ander mense behandel, sal my presies wys waar jy in jou verhouding met GOD staan. As jy mense rondom jou vertrap, uitsluit, verstoot, verneder en nie help waar jy kan help nie, moenie vra vra nie maar lees weer: en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is, 'en hulle moet eet en versadig word, sodat die Here jou God jou kan seën in al die werk van jou hand wat jy doen'. Soos jy met 'n oop hand gee, so sal jy ook met 'n oop hand ontvang. ------- GEBED. VADER, hoe dikwels hou ons U seëninge wat moes deurvloei na ander toe, nog steeds teen ons bors vas. Die lank en kort is ons doen dit omdat ons U nie vertrou vir ons voorsiening in die dag van môre nie, daarom gaar ons op, word ons gierig en wil alles vir onself hou. Gee asb aan ons 'n hart van omgee en meegevoel, sodat ons U seëninge ook kan laat deurvloei na ander toe. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir 'n gees van onderskeid sodat ons die verskil tussen nood en misbruik sal raaksien. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
July 22, 2025
15. en net toe die draers van die ark by die Jordaan kom en die priesters wat die ark dra, hulle voete aan die kant van die water insteek, terwyl die Jordaan vol was op al sy walle al die dae van die oes, 16. bly die water staan wat van die bokant afkom: dit het opgerys soos een wal, baie ver weg by die stad Adam wat langs Sartan lê; en die wat afstroom na die See van die Vlakte, die Soutsee, het heeltemal verdwyn; toe het die volk deurgetrek, teenoor Jérigo. *** Kern gedeelte: "hulle voete aan die kant van die water insteek" As jy ook vanoggend staan by die walle van jou Jordaan rivier, en jou probleme is ook in vloed, met geen menslike hoop om dit te keer of daardeur te kom nie, wil ek vir jou die volgende bevestiging gee! Om op die wal te bly staan en kyk gaan niks verander nie, maar as jy op GOD se Woord reageer, vorentoe beweeg, die eerste tree in geloof neem, jou voete in die water insteek, sal die pad vir jou oopgaan. Miskien weet jy nie as besigheid, as persoon waar die voorsiening vandaan sal kom nie, maar weet dit! Soos jy begin beweeg, so sal GOD se voorsiening jou volg en jy sal met elke tree net sterker word. Jou mosterd saadjie in jou bank rekening, sal groei tot 'n boom van voorsiening, nie net vir jouself nie, maar ook vir ander. Moenie nou begin twyfel nie, jy het dit reeds gemaak, hou net aan stap. ------- GEBED. VADER, so dikwels wil ons net op die kant staan en bid, oor ons uitdagings en probleme kla, maar tog was U Woorde aan Moses, Wat roep jy na My? Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet wegtrek. Dankie vir U Woord van bevestiging dat ons moet begin beweeg, dat ons moet wegtrek na 'n nuwe toekoms, na 'n nuwe bestemming saam met U. Gee ons asb die krag om die eerste tree in geloof te neem, en dan in volharding die pad aan te hou stap. In die Naam van ons Meester YESHUA, dank ons U vandag vir hierdie bevestiging, Dit is Tyd om te Beweeg. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
July 21, 2025
26. Kyk, ek hou julle vandag seën en vloek voor 27. die seën as julle luister na die gebooie van die Here julle God wat ek julle vandag beveel 28. en die vloek as julle nie luister na die gebooie van die Here julle God nie, maar afwyk van die weg wat ek julle vandag beveel, om agter ander gode aan te loop wat julle nie geken het nie. *** Kern gedeelte: "Kyk, ek hou julle vandag seën en vloek voor" Elkeen van ons, sonder uitsondering het 'n keuse. As jy vanoggend wakker geword het, met asem in jou longe en genoeg helderheid van verstand om hierdie boodskap te lees, dan is dit nog nie te laat nie. Jy het vanoggend nog die geleentheid om 'n keuse te maak. 'n Keuse om JESUS CHRISTUS aan te neem as jou persoonlike Verlosser en Saligmaker, 'n keuse om jou weg te draai van die sonde en GOD te dien met jou hele hart, siel en verstand. Of jy kan die "wêreld" kies wat jou verder in die sonde gaan inlei, op die hoofweg na die ewige verderf. Hierdie keuse word vanoggend vir JOU voorgehou. Nee, dit is niemand anders se keuse nie, niemand anders kan die skuld kry vir dit wat jy gekies het nie. Jy moet kies, want as jy klaar gekies het, gaan jy die verantwoordelikheid dra vir jou keuse! ------- GEBED. VADER, vandag is die eerste dag van die res van ons lewe. Die eerste dag nadat ons die keuse gemaak het om U te dien, of nie te dien nie. Gee ons asb die krag om die regte keuse te maak, om die pad saam met U te stap, maar sonder U nie 'n tree nie. Laat die besef asb tot ons indring dat elke aksie het 'n reaksie en elke besluit het 'n nagevolg. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U ons hart sal aanraak en ons lei in hierdie keuse wat ons vandag moet maak. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
July 17, 2025
27. Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm is van gees, is 'n man van verstand. 28. Selfs 'n sot sal as hy swyg, vir wys gereken word; as hy sy lippe toehou, vir verstandig. *** Kern gedeelte: "Wie sy woorde inhou" Hulle sê dat met die grysheid kom die wysheid, en ek het daadwerklik al mense ontmoet op my lewenspad wat hierdie stelling gestaaf het. Maar dan het ek ook al gryse mense teëgekom wat oorkook soos 'n pot warm melk en 'n totale gek van hulleself gemaak het. Al is dit moeilik, hou jou gees kalm want in die hitte van die oomblik kom jou ware karakter na vore, dan sien mense jou vir wie en wat jy is. As jy nie die situasie kalm kan hanteer, en weet wat om te sê nie, draai om en stap weg. Môre is nog 'n dag, Verloor eerder die geveg, maar wen die oorlog. ------- GEBED. VADER, Elia het nie U Stem in die vuur of in die wind gehoor nie, maar in die gesuis van sagte koelte. Al is dit die plan van die "verderwer" om die slegste in ons na vore te bring, gee U Heilige Gees ons kalmte en maak ons stil sodat eers na U Stem kan luister voordat ons reageer. Versterk ons asb sodat ons nie uit teësin of weerwraak sal spreek nie, maar slegs God gerigde woorde van wysheid. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir 'n kalm gees en stil gemoed. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
July 14, 2025
1. Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie. 2. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen. 3. Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil. 4. Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my. 5. U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. 6. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae. *** Kern gedeelte: "Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie" Ek wil vanoggend nie veel sê nie, maar jou slegs herhinner, wie is, ▪︎ Jou Herder, ▪︎ Jou voorsiener, ▪︎ Jou bewaarder, ▪︎ Jou stok en jou staf, ▪︎ En Wie is dit wat jou tafel voorberei teenoor jou teëstanders. Dit is die Lewende GOD wat die hemel en aarde geskape het! ------- GEBED. VADER, ons sien nie meer U Grootheid en Almag, nie, want ons het van U weg beweeg. Die skeidsmuur van sonde staan tussen ons en U, en ons verstoot die inwerking van U Heilige Gees. Gee ons asb vanoggend 'n oomblik van stilte, 'n oomblik van helderheid van verstand, sodat dit by ons sal insink dat U al om teenwoordig is, want die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir U Wysheid, U Insig en die inwerking van U Heilige Gees in ons lewe. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
Meer Plasings