DEUTERONÓMIUM 6:5-7 AFR53
5. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.
6. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;
7. en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.
***
Kern gedeelte:
"en jy moet dit jou kinders inskerp"
Enige persoon met 'n gesonde verstand en klein bietjie lewens ervaring sal weet dat ons kinders doen nie wat ons sê nie, maar hulle doen wat ons doen.
Deur ons leiding as ouers word ons kinders gevorm en deur ons voorbeeld giet ons die raamwerk van wie en wat hulle gaan wees.
As ek na 'n kind kyk wat geen maniere en self respek het nie, hoef ek nie veel verder as die ouers te gaan soek nie.
Dalk is dit vanoggend tyd om die harde realiteit in die oë te kyk en te vra, wat sien my kind in my lewe?
Sien hy die teenwoordigheid van GOD se Heilige Gees in my lewe waar ek GOD dien en respekvol vrees, of sien hy die wêreld se maniere van drank, hoerery, leuens, diefstal en geen respek vir ons medemens nie.
As die skoen pas, laat ons hom dan aantrek?
-------
GEBED.
VADER, ons foute affekteer nie net ons lewens nie, maar ook die van ons kinders. Ons faal hulle omdat ons hulle nie in U Woord, U Wil en U Weg opbring nie. Leer ons asb om nie ons kinders in struikeling te bring deur ons goddelose optrede nie, maar laat ons vir hulle 'n voorbeeld wees van ouers wat hulle anker en standvastigheid in ons GOD gevind het.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U ons sal lei sodat ons, ons kinders sal lei in U spore van geregtigheid.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
Sel: +27716283107





