II TIMÓTHEÜS 1:6-7 AFR53

June 12, 2025

6. Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die genadegawe van God aan te wakker wat in jou is deur die oplegging van my hande.

7. Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.


***


Kern gedeelte:

"Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie"


Waarom is daar vanoggend vrees in jou gemoed?

Het GOD jou nie tot hier toe nog gedra, en jou deur elke situasie gehelp nie?

Die engelse woord vir vrees is "fear" en dit staan vir die volgende

* F - False

* E - Evidence

* A - Appearing

* R - Real

En dit is wat die "verderwer" in jou gedagte plaas!

Jy is nie goed genoeg nie, jy gaan nie bo uitkom nie, jou besigheid gaan dit nie maak nie, jy gaan nie deur hierdie siekte kom nie, is maar enkele van die leuens wat daagliks jou voorgehou word.

Jy moet kies of jy dit gaan glo, en of jy gaan opstaan en verklaar:

GOD het my deur al die lewens storms tot hier toe gedra en Hy sal die pad voluit met my stap.

GOD sal my nie begeef of verlaat nie!


-------


GEBED.


VADER, dankie dat uit hierdie storm, ons deurbraak tot voorskyn sal kom. Dankie dat U, in U Woord bevestig dat U planne van 'n hoopvolle toekoms vir ons het, planne van lewe en lewe in oorvloed. Gee aan ons asb die krag om in geloof te bly staan.

In die Naam van ons Meester YESHUA bid ons vir U vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Amen.


•••••••



Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za

Sel: +27716283107

June 13, 2025
2. Die Here is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem; die God van my vader, Hom sal ek verhef. 3. Die Here is 'n krygsman; Here is sy naam. 4. Hy het Farao se strydwaens en sy leërmag in die see gewerp. En sy beste vegsmanne het in die Skelfsee gesink. *** Kern gedeelte: "Die HERE is my krag en my psalm" Vanoggend wil ek die lof, prys en eer aan die HERE gee, en ek wil vir jou sê, as GOD al is wat jy oorhet, het jy alles wat jy nodig het. Waar Moses voor daardie see gaan staan het, het hy tot GOD uitgeroep, want hy het nie meer geweet watter kant toe nie. En GOD antwoord hom: Wat roep jy na My? Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet wegtrek. En jy, hef jou staf op en steek jou hand uit oor die see en kloof dit, sodat die kinders van Israel dwarsdeur die see op droë grond kan trek. Vanoggend wil ek vir jou sê, lig jou staf op in gebed en steek jou hand uit oor jou probleme, jou doodloop straat, en sien hoe GOD vir jou 'n pad oopmaak waar daar nie 'n pad is nie en die onmoontlike, moontlik maak. Ek sê weer, as GOD al is wat jy oorhet, het jy alles wat jy nodig het! ------- GEBED. VADER, U gee oorwinning soos geen mens dit kan doen nie, en U is 'n GOD wat die onmoontlike, moontlik maak! Ons eer en dank U vir die oorwinning, en vir die pad wat U reeds vir ons voorberei het, al kan ons dit nog nie sien nie. Alle eer en lof aan U, ons GOD! In die Naam van ons Meester YESHUA, dank ons U vir U Leiding, U Insig wat U deur U Heilige Gees in ons lewe inspreek. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
June 11, 2025
14. HERINNER aan hierdie dinge en betuig voor die Here dat hulle geen woordestryd moet voer wat tot geen nut is nie, maar net tot ondergang van die hoorders. 15. Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as 'n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny. 16. Maar die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy; want hulle sal al verder voortgaan in goddeloosheid, *** Kern gedeelte: "wat die woord van die waarheid reg sny" Ongelukkig is daar net een waarheid, en daardie waarheid is in die Woord van GOD saamgevat. JESUS CHRISTUS maak dit duidelik wanneer Hy sê, Ek is die Lig, die Weg en die Waarheid. Hierdie is die harde realiteit, soos gekrywe is in Openbaring 14:12: Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van GOD en die geloof in JESUS bewaar. Ons kan die twee nooit van mekaar skei nie, en ons kan nie met die Naam van ons Verlosser op ons lippe loop en met die wêreld in ons hart nie. Deur die Woord van GOD nie net te lees nie, maar te begin uitleef, sal die Heilige Gees die sluier ons oë meer en meer lig sodat ons ook die waarheid kan sien, sodat ons daarin kan staan. ------- GEBED. VADER, leer ons asb hoe ons in U Waarheid moet staan en U Woord sonder voorgee te spreek sodat meer siele tot ware bekering sal kom. Die "verdewer" lei die wêreld en sy mense aan die neus rond en hulle kan die Waarheid van U Woord nie verstaan nie. Laat U Lig asb deur ons skyn, sodat die Waarheid van U Woord sal deurbreek soos die daggeraad. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U Heilige Gees ons voetstappe sal rig op ons lewenspad. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
June 10, 2025
5. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. 6. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; 7. en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. *** Kern gedeelte: "en jy moet dit jou kinders inskerp" Enige persoon met 'n gesonde verstand en klein bietjie lewens ervaring sal weet dat ons kinders doen nie wat ons sê nie, maar hulle doen wat ons doen. Deur ons leiding as ouers word ons kinders gevorm en deur ons voorbeeld giet ons die raamwerk van wie en wat hulle gaan wees. As ek na 'n kind kyk wat geen maniere en self respek het nie, hoef ek nie veel verder as die ouers te gaan soek nie. Dalk is dit vanoggend tyd om die harde realiteit in die oë te kyk en te vra, wat sien my kind in my lewe? Sien hy die teenwoordigheid van GOD se Heilige Gees in my lewe waar ek GOD dien en respekvol vrees, of sien hy die wêreld se maniere van drank, hoerery, leuens, diefstal en geen respek vir ons medemens nie. As die skoen pas, laat ons hom dan aantrek? ------- GEBED. VADER, ons foute affekteer nie net ons lewens nie, maar ook die van ons kinders. Ons faal hulle omdat ons hulle nie in U Woord, U Wil en U Weg opbring nie. Leer ons asb om nie ons kinders in struikeling te bring deur ons goddelose optrede nie, maar laat ons vir hulle 'n voorbeeld wees van ouers wat hulle anker en standvastigheid in ons GOD gevind het. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U ons sal lei sodat ons, ons kinders sal lei in U spore van geregtigheid. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
June 9, 2025
13. En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig! 14. Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word. *** Kern gedeelte: "want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word" Soms maak ek net verskoning en stap uit die gesprek, die geselskap en uit die vertrek uit, want daar is nie genoeg plek vir my, die persoon met wie ek gesels, en sy ego van die "eie ek" nie. Wanneer ons nog so vol van onself is, is daar nie plek vir GOD in ons lewens nie, en hoe sal die Heilige Gees in ons lewe inspreek, wanneer ons eiewysheid deur ons eie stem aangevuur word. Moenie te hoog probeer vlieg nie, en moenie jouself verhoog nie want GOD haat trotse oë. Hoogmoed kom voor die val, want eers dan word ons stem stil, gaan ons ore oop, sodat ons na GOD se stem kan luister. Eers dan leer ons ook om te sê: o GOD, wees my, sondaar, genadig! ------- GEBED. VADER, in 'n oogwink kruip trots en die "eie ek" weer terug in ons lewe in. Ons wil so graag deur mense gesien en geprys word en kortliks staan ons weer op die verhoog van valse toneelspel, waar ons die wêreld se goedkeuring wil wegdra. Gee asb aan ons die krag om vandag van hierdie pad weg te draai sodat ons sal besef, dat alles wat ons is, is slegs deur U genade. Sodat ons ook sal bid, o GOD, wees my sondaar genadig! In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir nederigheid, nederigheid en nederigheid voor U. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
June 6, 2025
10. Jy, o mensekind, vertel die huis van Israel van die huis, sodat hulle beskaamd kan staan vanweë hul ongeregtighede, en laat hulle die voorbeeld nameet. 11. En as hulle beskaamd staan oor alles wat hulle gedoen het, maak hulle dan bekend die vorm van die huis en sy inrigting en sy uitgange en sy ingange en al sy vorme en al sy verordeninge, ja, al sy vorme en al sy wette; en skrywe dit voor hulle oë op, sodat hulle sy hele vorm kan bewaar en al sy verordeninge en dié kan uitvoer. *** Kern gedeelte: "as hulle beskaamd staan oor alles wat hulle gedoen het" Hierdie is so van toepassing in almal van ons se lewe. Dit is eers wanneer ons beskaamd staan oor ons verlede, dit wat ons gedoen het voor GOD belei, en vir vergifnis vra in die Naam van JESUS CHRISTUS, wat die sluier voor ons oë gelig sal word, en ons sal die waarheid begin sien vir wat dit werklik is. Eers dan sal GOD se bloudruk plan vir ons lewe stelselmatig aan ons openbaar word. Maar as ons nog glo dat die ongeregtigheid waarmee ons besig is, reg is, dan is ons nog verblind deur die "verderwer" en lewe ons nog in die verlusting van hierdie wêreld. ------- GEBED. VADER, daar is niemand so blind soos 'n persoon wat nie wil sien nie en daarom bid ons dat U die sluier oor ons oë sal lig. Laat ons sien en beskaamd staan oor die ongeregtigheid, die sonde wat ons mee besig is, en laat ons nie oop oë hêl toe gaan nie. Dankie dat ons slegs deur U genade tot hiertoe nog in die lewe gehou is, sodat ons nog die geleentheid het om ons Verlosser te vind. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat elkeen wat hierdie boodskap lees of luister, se geestelike oë geopen sal word vir hulle eie foute. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
June 5, 2025
17. Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie 18. nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil. 19. Die Here Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. *** Kern gedeelte: "nogtans sal ek jubel in die Here" Vanoggend is een van daardie oggende waar alles net skeefloop, en sedert ek uit die bed geklim het gaan dit reeds so. Die waarheid is dat dit gaan al die hele week so, maar selfs dit bekommer my nie. As die storms kom, hou aan stap in geloof, stap teen die storm in, glo dat GOD jou gaan krag gee, jou gaan deurdra en sodoende gaan hierdie storm ook binnekort iets van die verlede gaan wees. Niks hou vir ewig aan nie, nie eers ons woestyn tye nie. Ook dit sal verbygaan, maar ons verhouding met GOD sal bly staan. Daarom kan ons sê: Nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil. ------- GEBED. VADER, ons weet dat die "verderwer" ons sal aanval met 'n rede, en daardie rede is die Evangelie van U Seun, ons Verlosser. As ons gekies het om weg te stap van die weë van die wêreld af, aan U gehoorsaam word, sal die aanslae kom, maar U reddende regterhand het ons tot nou toe nog deur alles gedra, selfs deur ons swak besluite. Dankie dat ook in hierdie storm, U ons die krag gee om alles te oorkom. In die Naam van ons Meester YESHUA, verklaar ons oorwinning oor hierdie dag. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
Meer Plasings