HÁBAKUK 2:4-5, 9 AFR53
4. Kyk, sy siel is opgeblase in hom en nie reg nie. Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.
5. En bowendien, die wyn is 'n bedrieër, 'n trotse man is onbestendig: hy wat sy keel wyd oopmaak soos die doderyk, en soos die dood is hy, so onversadelik — hy vergader vir homself al die nasies en maak vir hom al die volke bymekaar.
9. Wee hom wat vuil gewin maak vir sy huis, om sy nes in die hoogte te bou, om homself te red uit die greep van onheil.
***
Kern gedeelte:
"Wee hom wat vuil gewin maak vir sy huis"
As daar een ding is waarvan jy seker kan wees is dit die volgende!
Een onregverdige sent, vergeld tien duisend regverdige sente.
Miskien het jy vandag daarmee weggekom, en miskien sal jy ook môre daarmee wegkom, maar weet die arm van GOD is nooit te kort nie.
Die een of ander tyd gaan dit jou inhaal, en dan moet jy nie vra hoekom nie, want die antwoord gaan in jou eie hand wees.
Moet dan nie vra hoekom jou verdienste soos water deur jou vingers glip nie, en hoekom jou werke nie geseënd is nie.
Want jy het gekies om jou fondasie op ongeregtigheid te bou!
En hierdie woorde is op ons almal van toepassing!
-------
GEBED.
VADER, leer ons asb hoe om in U pad van geregtigheid te lewe, en om ander te behandel soos ons behandel wil word. U Woord is duidelik, ons kan kies watter pad ons wil stap. Die pad van geregtigheid of die pad van ongeregtigheid. As ons die pad van ongeregtigheid kies, laat ons dan nie vra hoekom U Goedheid en U Guns ons nie meer volg nie.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir die krag om aan te hou om die regte dinge te doen, selfs waar niemand sien nie.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
Sel+27716283107





