ESÉGIËL 36:26-27, 31 AFR53
26. En Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee.
27. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.
31. Dan sal julle dink aan jul verkeerde weë en aan jul handelinge wat nie goed was nie; en julle sal vir julleself walglik wees oor jul ongeregtighede en oor jul gruwels.
***
Kern gedeelte:
"en julle sal vir julleself walglik wees"
As ek vandag terugkyk na my lewe, voor ek JESUS CHRISTUS as my Verlosser en Saligmaker aangeneem het, was ek nie net van die pad af nie, maar ek het die hele padkaart gemis.
Terwyl ek in die sienswyse van die wêreld geleef het, was sekere aksies/norme aanvaarbaar en aan die orde van die dag.
As ek vandag terugkyk, kan ek nie glo waarmee ek alles besig was nie, ek verstaan nie eers hoe ek kon dink dat dit reg was nie.
Wanneer ons, deur ons Verlosser 'n nuwe hart en 'n nuwe gees ontvang, sal ons verlede ook vir ons walglik wees.
Dan sal ons weet dat dit slegs GOD se genade was wat ons tot hiertoe gedra het.
-------
GEBED.
VADER, al wat ek vandag wil doen is om U te dank, te loof en te prys, vir dit wat U alles vir my gedoen het, dat U my 'n tweede kans gegee het. Ek het nog vanoggend die geleentheid om mense te vertel wie my Verlosser is en hoe groot my GOD is. Ek bid vandag vir elkeen wat nog nie die aanraaking van U Heilige Gees in hulle lewe ervaar het nie en laat U Gees nie by hulle verby gaan nie.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir siele tot bekering.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
Sel: +27716283107





