I KORINTHIËRS 3:6-8 AFR53

April 16, 2025

6. Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei.

7. So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei.

8. Maar hy wat plant en hy wat natmaak, is een, maar elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang. 


***


Kern gedeelte:

"maar GOD wat laat groei"


Hierdie is een van die grootste slaggate, struikelblokke of gevare in elke kind van GOD se lewe, of jy in die bediening staan of nie.

Ons raak frustreerd deur ons onvermoë om by mense in te dring, die boodskap duidelik en helder oor te dra en hulle op die pad na JESUS CHRISTUS toe te lei.

Hier is die harde waarheid, jy kan niks verander nie, niemand lei, of tot bekering bring nie.

Dit is die werk van GOD, deur die inwerking van Sy Heilige Gees.

Ons kan mense van ons Verlosser vertel, die genade van GOD wat vir elkeen beskikbaar gestel is, ons kan lewe sodat ander die Lig van ons Verlosser in ons kan sien, maar meer as dit is nie in jou hande nie.

Dit is elkeen se persoonlike keuse om tot bekering te kom, wanneer hulle GOD in hulle lewe toelaat deur JESUS CHRISTUS wat vir ons aan die kruis gesterf het. 

Die Heilige sal laat groei, wanneer en soos nodig om GOD se perfekte Wil vir ons lewe te bereik.

Saai jy net die saad en beweeg aan, die bloed is nie meer op jou hande nie.

Die persoon is gewaarsku!


-------


GEBED.


VADER, wie ore het, laat hom hoor. Ons beweeg in sirkels en bedien oor en oor op dieselfde plekke, waar verandering nie deur ons gebring gaan word nie. Daarom stagneer ons, raak ons frustreerd maar ons besef nie dat dit tyd is om aan te beweeg nie. Open asb ons oë en wys vir ons wanneer dit tyd is vir verandering. Laat ons vatbaar wees vir die stem van U Heilige Gees wat ons op 'n nuwe pad gaan lei.

In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir 'n nuwe rigting in ons lewe en in ons bediening, soos U dit op ons hart geplaas het.

Amen.


•••••••



Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za

Sel: 0716283107

July 11, 2025
1. HOOR die woord van die Here, o kinders van Israel! Want die Here het 'n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie. 2. Hulle sweer en lieg en moor en steel en pleeg owerspel; hulle breek in, sodat bloedbad aan bloedbad raak. 3. Daarom treur die land, en alles wat daarop woon, kwyn weg: die wilde diere van die veld en die voëls van die hemel, ja, ook die visse van die see kom om. *** Kern gedeelte: "Daarom treur die land" Ons kla en kerm, maar ons keer nie terug na GOD toe nie. Ons immigreer, maar die swaard sal ons ook daar inhaal, want die liefde en trou van ons GOD is nie in ons hart nie. Ons wys vingers na die goddelose regering, maar niemand dink daaraan dat GOD, soos met Nebukadneser, hulle daar geplaas het om hierdie volk weer op hulle knieë te dwing, weer terug te kry by Hom nie. Ons voortdurende gekerm en gekla gaan niks verander nie, maar gebed verander sake. Nader tot my sê GOD, en Ek sal tot julle nader. Kortliks, wanneer die volk nie meer kan nie, wanneer dit bitter sleg gaan, wanneer choas in land uitbreek, sal ons in eenheid tot GOD begin nader. Dan eers sal GOD se herstel proses begin. ------- GEBED. VADER, die besef sink nog nie by ons in dat dit eers bitter sleg met ons moet gaan voordat dit weer goed sal gaan nie. Ons weet dat herstel deur U Hand sal kom, maar ons loop nog rond as siende blind en horende doof. Ons vra dat Heilige deur ons land sal beweeg, harte sal aanraak, sal voorberei vir die groot Herlewing, die dag wanneer ons weer saam in U Naam sal vergader. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U die skille van ons oë sal verwyder, sodat ons die dwaasheid van ons weë sal sien. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
July 10, 2025
19. SO dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word. 20. Want die toorn van 'n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie. 21. Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red. *** Kern gedeelte: "stadig om te praat, stadig om toornig te word" 'n Mens kan nie jouself, jou spieëlbeeld nie sien in 'n pot kokende water nie, daarom laat die water afkoel, laat jou gemoed rustig word, oordink die situasie. As die water stil en kalm is, eers dan sal jy die volle prentjie sien. As jy dan nog nie seker is hoe om die situasie te hanteer nie, hanteer die situasie in liefde, in kalmte. Die maklikste manier om die situasie in GOD se Wil te hanteer, in liefde te hanteer, is om die volgende vraag te vra. Wat sou JESUS gedoen het, en daarin sal jy jou antwoord vind! Moenie deur oorhaastige woorde en dade aan hierdie wêreld gelykvormig word nie! ------- GEBED. VADER, spyt is 'n goeie ding, maar spyt kom altyd te laat. So ook woorde wat gespreek is, soos vere wat deur die wind verstrooi is, kan dit nooit weer teruggetrek word nie. U Woord sê vir ons dat lewe en dood is in die mag van die tong, daarom gee ons asb die krag om in die hitte van die oomblik, eerder stil te bly, te luister as om woorde van dood te spreek waaroor ons later bitter jammer gaan wees. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir die krag om elke situasie in liefde te hanteer. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
July 9, 2025
2. Maar die woord van die Here het tot Semája, die man van God, gekom en gesê: 4. So spreek die Here: Julle mag nie optrek en teen julle broers oorlog voer nie; julle moet omdraai, elkeen na sy huis, want van My het hierdie saak gekom. Hulle het toe geluister na die woorde van die Here en omgedraai sonder om teen Jeróbeam op te trek. *** Kern gedeelte: "want van My het hierdie saak gekom" Jy mag dalk gevra word om by iets of iemand betrokke te raak wat op die ingewing van die oomblik reg lyk of voel, mag dalk teen GOD se Wil inwerk. Moenie emosioneel reageer of blindelings instorm nie, want sekere sake is juis so beskik, en die persoon/persone sit juis nou aan by hulle eie tafel van nagevolg. Neem net 'n tree terug, Nader in gebed tot GOD, vra vir leiding, rigting, wysheid en insig, wag vir bevestiging en die antwoord sal ook dalk wees: ▪︎ julle moet omdraai, elkeen na sy huis, want van My het hierdie saak gekom. ------- GEBED. VADER, so dikwels storm ons kop eerste in 'n situasie in, sonder om die langtermyn gevolge te oordink. Ons raak by ander mense se foute betrokke wat hulle deur hulle eie hande veroorsaak het. Laat ons vanoggend net 'n oomblik neem en U ken in hierdie saak, sodat ons nie teen U Wil inwerk nie, nie in die pad kom van U Geregtigheid nie. Lei ons asb soos dit U behaag. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir U Leiding aangaande hierdie saak. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
July 8, 2025
24. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug. 25. Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe. **** Kern gedeelte: "Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor" Ek wil vanoggend tot die punt kom en vra, watse vrug dra jy vir jou Verlosser, of is die saadjie van die "eie ek" nog veilig in jou hande. Dit is eers wanneer jy die aanraking van JESUS CHRISTUS in jou lewe ervaar het dat jy besef, jy moet die "eie ek" begrawe, jou lewe aan GOD toewy sodat daar groei in jou lewe kan plaasvind, waardeur ander mense aangeraak sal word. As jy nog met die saadjie van die "eie ek"in die hand staan, het jy nog nie oorgegee nie, het jou nog nie jou Verlosser ontmoet nie, nog nie jou lewe aan GOD toegewy nie, en sal hierdie boodskap jou waarskynlik tot aanstoot wees. Hoe dit ook al sy, as jy hierdie boodskap lees, het jy nog vandag die tyd om sake te verander voor jou lig vir ewig uitgedoof word. Jou Verlosser staan voor die deur van jou hart en klop, die vraag is, hoe gaan jy daarop reageer. ------- GEBED. VADER, dankie vir die geleentheid wat U ons vandag gee, nie net om ons lewe aan U toe te wy nie, maar ook om opnuut te besef dat U vuur in ons afgekoel het, en dat ons, ons Verlosser, ons eerste liefde verlaat het. Plaas asb 'n nuwe lied in ons mond wat sing oor U vuur wat in ons harte brand. Rig ons asb op en maak ons sterk. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir 'n geestelike aanraking, waar dit nodig is, en laat hierdie boodskap soos 'n veldbrand versprei. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
July 7, 2025
25. Die vrees vir die mens span 'n strik; maar hy wat op die Here vertrou, sal beskut word. 26. Daar is baie wat die aangesig van die heerser soek, maar die reg van 'n mens kom van die Here. 27. 'n Man van onreg is vir die regverdiges 'n gruwel, en vir die goddelose is die opregte van wandel 'n gruwel. *** Kern gedeelte: "Die vrees vir die mens span 'n strik" Vanoggend wil ek dit baie duidelik maak! Die enigste vrees wat jy in jou lewe moet hê, is die respekvolle vrees vir GOD, want daarin is die kennis waardeur ons gerig sal word op ons lewenspad. Op die lewenspad, sal beide goed en sleg oor ons pad kom, maar ons hoef dit nie te vrees nie, maar ook daardeur sal GOD ons dra. Moenie in vrees lewe nie want die Woord van GOD sê duidelik, dat dit wat jy vrees, sal na jou toe aankom. Vra eerder dat GOD jou sal oprig, jou sal versterk, om elke aanslag die hoof te bied, en dat ons nie sal buig voor die wêreld nie. As jy vanoggend vra waar sal jou hulp vandaan kom, dan wil ek vir jou sê, ons hulp is van die HERE wat die hemel en die aarde geskape het. ------- GEBED. VADER, vanoggend moet ons belei dat vrees ons verlam, en daarom is ons bang om die geleenthede aan te gryp wat U oor ons pad bring. Ons vrees dit wat die toekoms inhou want ons land gaan ten gronde, maar ons vergeet dat U 'n pad deur die see gemaak het vir U volk, U kinders, uitkoms gegee her waar daar geen uitkoms meer was nie. Laat ons vandag opstaan en verklaar, laat kom wat wil, want my GOD is in beheer. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir krag om uit te styg bo ons probleme. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
July 4, 2025
18. Selfs met hierdie woorde het hulle met moeite die skare verhinder om aan hulle te offer. 19. Maar daar het Jode van Antiochíë en Ikónium aangekom, en hulle het, nadat hulle die skare omgepraat het, Paulus gestenig en hom buitekant die stad gesleep, met die gedagte dat hy dood was. *** Kern gedeelte: "nadat hulle die skare omgepraat het" Pasop vir die eer en lofprysing van mense! Wanneer daar vir hulle iets tot voordeel is, sal mense jou ophemel, jou op die hande dra. Maar wanneer jy jou doel gedien het sal dieselfde mense wat jou vandag eer en lof toegejuig het, klippe optel om jou te stenig. Daarom sê die Woord van GOD, vervloek is die man wat steun op die arm van die vlees. Loop eerder die pad alleen, kies jou vriende baie versigtig, en moenie skares aanhangers rondom jou vergader nie. Dit gaan jou tot spyt wees. ------- GEBED. VADER, met die grysheid kom die wysheid, en soos ons ouer word besef ons dat mense nie vertrou kan word nie, want ons sien slegs die uiterlike van die mens maar die intensies en planne van hulle harte verstaan ons glad nie. Daarom bid ons vir nederigheid van hart sodat, ons nie die eer van die mens najaag nie. Gee asb aan ons die gees van onderskeiding wat nie ongewenste persone in ons lewe sal toelaat nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U ons sal rig op ons lewenspad. Amen. -------  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
Meer Plasings