HANDELINGE 4:11-12 AFR53

March 31, 2025

11. Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat 'n hoeksteen geword het.

12. En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.


***


Kern gedeelte:

"En die saligheid is in niemand anders nie"


As jy vanoggend nog enige twyfel in jou hart het, wil ek dit helder en duidelik bevestig!

Dit wat jy tans voor bid, jou oplossing, jou deurbraak, jou genesing, die wonderwerk wat jy tans op wag sal net op een manier, deur een Naam bewerkstellig word, en dit is deur gebed tot GOD, in die Naam van JESUS CHRISTUS.

As jy vanoggend nog glo dat dit nie moontlik is nie, nog gryp na grashalms, jou hoop en uitkoms op die arm van vlees stel, dan is jy op die verkeerde pad.

Weet, dat die gebed van die regverdige het groot krag, en jou gebed kan jou omstandige skud, verandering in jou lewe inforseer, deur GOD se Wil.

Maar niks gaan gebeur, as die verandering nie by ons begin nie, as ons nie in gebed tot GOD nader, en bid in die Naam bo alle Name nie, die een Naam wat ook jou lewe sal verander.

Stel dit op die proef, en sien hoe sake verander, sien hoe jou twyfel, jou getuienis word.


-------


GEBED.


VADER, ons twyfel is die fondasie en boublokke van ons huidige omstandighede, en ons besef nie die krag van gebed nie. In U Woord lees ons dat die gebed van die regverdige het groot krag. Laat ons eers voor ons eie deur vee, eers ons eie huis in orde kry, sodat ons in onpartydige opregtheid tot U kan nader, dat ons U perfekte Wil vir ons lewe sal verstaan. Laat ons gebed ons boublokke van geregtigheid word.

In die Naam van ons Meester YESHUA, spreek ons lewe oor elke negatiewe situasie, spreek ons Sy Lig in elke donker aspek van jou lewe in.

Amen.


•••••••



Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za

Sel: +27716283107

July 9, 2025
2. Maar die woord van die Here het tot Semája, die man van God, gekom en gesê: 4. So spreek die Here: Julle mag nie optrek en teen julle broers oorlog voer nie; julle moet omdraai, elkeen na sy huis, want van My het hierdie saak gekom. Hulle het toe geluister na die woorde van die Here en omgedraai sonder om teen Jeróbeam op te trek. *** Kern gedeelte: "want van My het hierdie saak gekom" Jy mag dalk gevra word om by iets of iemand betrokke te raak wat op die ingewing van die oomblik reg lyk of voel, mag dalk teen GOD se Wil inwerk. Moenie emosioneel reageer of blindelings instorm nie, want sekere sake is juis so beskik, en die persoon/persone sit juis nou aan by hulle eie tafel van nagevolg. Neem net 'n tree terug, Nader in gebed tot GOD, vra vir leiding, rigting, wysheid en insig, wag vir bevestiging en die antwoord sal ook dalk wees: ▪︎ julle moet omdraai, elkeen na sy huis, want van My het hierdie saak gekom. ------- GEBED. VADER, so dikwels storm ons kop eerste in 'n situasie in, sonder om die langtermyn gevolge te oordink. Ons raak by ander mense se foute betrokke wat hulle deur hulle eie hande veroorsaak het. Laat ons vanoggend net 'n oomblik neem en U ken in hierdie saak, sodat ons nie teen U Wil inwerk nie, nie in die pad kom van U Geregtigheid nie. Lei ons asb soos dit U behaag. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir U Leiding aangaande hierdie saak. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
July 8, 2025
24. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug. 25. Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe. **** Kern gedeelte: "Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor" Ek wil vanoggend tot die punt kom en vra, watse vrug dra jy vir jou Verlosser, of is die saadjie van die "eie ek" nog veilig in jou hande. Dit is eers wanneer jy die aanraking van JESUS CHRISTUS in jou lewe ervaar het dat jy besef, jy moet die "eie ek" begrawe, jou lewe aan GOD toewy sodat daar groei in jou lewe kan plaasvind, waardeur ander mense aangeraak sal word. As jy nog met die saadjie van die "eie ek"in die hand staan, het jy nog nie oorgegee nie, het jou nog nie jou Verlosser ontmoet nie, nog nie jou lewe aan GOD toegewy nie, en sal hierdie boodskap jou waarskynlik tot aanstoot wees. Hoe dit ook al sy, as jy hierdie boodskap lees, het jy nog vandag die tyd om sake te verander voor jou lig vir ewig uitgedoof word. Jou Verlosser staan voor die deur van jou hart en klop, die vraag is, hoe gaan jy daarop reageer. ------- GEBED. VADER, dankie vir die geleentheid wat U ons vandag gee, nie net om ons lewe aan U toe te wy nie, maar ook om opnuut te besef dat U vuur in ons afgekoel het, en dat ons, ons Verlosser, ons eerste liefde verlaat het. Plaas asb 'n nuwe lied in ons mond wat sing oor U vuur wat in ons harte brand. Rig ons asb op en maak ons sterk. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir 'n geestelike aanraking, waar dit nodig is, en laat hierdie boodskap soos 'n veldbrand versprei. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
July 7, 2025
25. Die vrees vir die mens span 'n strik; maar hy wat op die Here vertrou, sal beskut word. 26. Daar is baie wat die aangesig van die heerser soek, maar die reg van 'n mens kom van die Here. 27. 'n Man van onreg is vir die regverdiges 'n gruwel, en vir die goddelose is die opregte van wandel 'n gruwel. *** Kern gedeelte: "Die vrees vir die mens span 'n strik" Vanoggend wil ek dit baie duidelik maak! Die enigste vrees wat jy in jou lewe moet hê, is die respekvolle vrees vir GOD, want daarin is die kennis waardeur ons gerig sal word op ons lewenspad. Op die lewenspad, sal beide goed en sleg oor ons pad kom, maar ons hoef dit nie te vrees nie, maar ook daardeur sal GOD ons dra. Moenie in vrees lewe nie want die Woord van GOD sê duidelik, dat dit wat jy vrees, sal na jou toe aankom. Vra eerder dat GOD jou sal oprig, jou sal versterk, om elke aanslag die hoof te bied, en dat ons nie sal buig voor die wêreld nie. As jy vanoggend vra waar sal jou hulp vandaan kom, dan wil ek vir jou sê, ons hulp is van die HERE wat die hemel en die aarde geskape het. ------- GEBED. VADER, vanoggend moet ons belei dat vrees ons verlam, en daarom is ons bang om die geleenthede aan te gryp wat U oor ons pad bring. Ons vrees dit wat die toekoms inhou want ons land gaan ten gronde, maar ons vergeet dat U 'n pad deur die see gemaak het vir U volk, U kinders, uitkoms gegee her waar daar geen uitkoms meer was nie. Laat ons vandag opstaan en verklaar, laat kom wat wil, want my GOD is in beheer. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir krag om uit te styg bo ons probleme. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
July 4, 2025
18. Selfs met hierdie woorde het hulle met moeite die skare verhinder om aan hulle te offer. 19. Maar daar het Jode van Antiochíë en Ikónium aangekom, en hulle het, nadat hulle die skare omgepraat het, Paulus gestenig en hom buitekant die stad gesleep, met die gedagte dat hy dood was. *** Kern gedeelte: "nadat hulle die skare omgepraat het" Pasop vir die eer en lofprysing van mense! Wanneer daar vir hulle iets tot voordeel is, sal mense jou ophemel, jou op die hande dra. Maar wanneer jy jou doel gedien het sal dieselfde mense wat jou vandag eer en lof toegejuig het, klippe optel om jou te stenig. Daarom sê die Woord van GOD, vervloek is die man wat steun op die arm van die vlees. Loop eerder die pad alleen, kies jou vriende baie versigtig, en moenie skares aanhangers rondom jou vergader nie. Dit gaan jou tot spyt wees. ------- GEBED. VADER, met die grysheid kom die wysheid, en soos ons ouer word besef ons dat mense nie vertrou kan word nie, want ons sien slegs die uiterlike van die mens maar die intensies en planne van hulle harte verstaan ons glad nie. Daarom bid ons vir nederigheid van hart sodat, ons nie die eer van die mens najaag nie. Gee asb aan ons die gees van onderskeiding wat nie ongewenste persone in ons lewe sal toelaat nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U ons sal rig op ons lewenspad. Amen. -------  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
July 3, 2025
5. Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7. omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie. *** Kern gedeelte: En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie Ons kan 'n lewe van voorgee, voor mense lei, maar GOD sien die waarheid. Sy Heilige Gees getuig vir ons of teen ons, afhangend waar ons geestelike lewe tans is. Lees die hele hoofstuk 8 van Romeine en laat dit insink. As GOD nie alles is vir jou nie, dan is Hy niks vir jou nie. Jy is of gered of jy is nie. Soveel mense verklaar dat JESUS CHRISTUS hulle Verlosser en Saligmaker is, maar die duisternis van die wêreld verblind nog hulle oë, hulle denke, hulle weë, sodat hulle die pad van Waarheid nie kan sien nie. Onthou net, die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie. ------- GEBED. VADER, gee asb aan ons die krag om die deure van versoeking toe te hou, want die "verderwer" het sy vingers oral in. Soms is dit wat so reg lyk, juis die verkeerde ding, en as dit te goed lyk om waar te wees, dan is dit juis die weg van struikeling. Beskerm ons asb dat ons nie weer in die strikke van die vlees sal trap nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir krag om geestelik, staande te bly. Amen •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel+27716283107
July 2, 2025
12. En nou, Israel, wat eis die Here jou God van jou as net om die Here jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die Here jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, 13. om te hou die gebooie van die Here en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou goed kan gaan? *** Kern gedeelte: "dat dit met jou goed kan gaan" Ek verstaan die bogenoemde beter as wat baie mense verstaan en as jy in GOD se Wil probeer lewe sal jy dit ook verstaan! Orals in die lewe is daar mense wat wil hê wat ons het, maar hulle is nie bereid om te doen wat ons doen nie. Waar ander mense agter die wêreld aanjaag, na grashalms gryp en probeer inpas, het ons, in ons, die vrede van GOD wat alle verstand te bowe gaan. Die Woord van GOD leer ons; soek eers die Koningkryk van GOD en Sy Geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. As jy dit navolg sal GOD dit vir jou gee wat jou toekom, op die tyd wanneer jy dit jy dit kan hanteer, sodat dit ook met jou goed kan gaan. Moenie die Bybel net lees nie, maar begin dit uitleef, en sien hoe GOD se hand begin beweeg in jou lewe. ------- GEBED. VADER, vir jare lank lewe ons in die wêreld en dek ons, ons tafel van nagevolg. Dan vra ons hoekom dit met ons so sleg gaan, terwyl U jare lank deur die inwerking van U Heilige Gees, ons geroep het tot bekering. Ons bid vir vir 'n nuwe blaai, 'n nuwe hoofstuk in ons lewe, waar ons sal leer om U en U Woord eerste te stel, sodat dit met ons goed kan gaan. In die Naam van ons Meester YESHUA, vra ons vir 'n nuwe begin, vir 'n lewe toegewy aan U. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
Meer Plasings