HANDELINGE 14:18-19 AFR53

July 4, 2025

18. Selfs met hierdie woorde het hulle met moeite die skare verhinder om aan hulle te offer.

19. Maar daar het Jode van Antiochíë en Ikónium aangekom, en hulle het, nadat hulle die skare omgepraat het, Paulus gestenig en hom buitekant die stad gesleep, met die gedagte dat hy dood was.


***


Kern gedeelte:

"nadat hulle die skare omgepraat het"


Pasop vir die eer en lofprysing van mense!

Wanneer daar vir hulle iets tot voordeel is, sal mense jou ophemel, jou op die hande dra.

Maar wanneer jy jou doel gedien het sal dieselfde mense wat jou vandag eer en lof toegejuig het, klippe optel om jou te stenig.

Daarom sê die Woord van GOD, vervloek is die man wat steun op die arm van die vlees.

Loop eerder die pad alleen, kies jou vriende baie versigtig, en moenie skares aanhangers rondom jou vergader nie.

Dit gaan jou tot spyt wees.


-------


GEBED.


VADER, met die grysheid kom die wysheid, en soos ons ouer word besef ons dat mense nie vertrou kan word nie, want ons sien slegs die uiterlike van die mens maar die intensies en planne van hulle harte verstaan ons glad nie. Daarom bid ons vir nederigheid van hart sodat, ons nie die eer van die mens najaag nie. Gee asb aan ons die gees van onderskeiding wat nie ongewenste persone in ons lewe sal toelaat nie.

In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U ons sal rig op ons lewenspad.

Amen.


-------



Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za

Sel: +27716283107

August 18, 2025
17. Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie 18. nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil. 19. Die Here Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente. **** Kern gedeelte: "nogtans sal ek jubel in die Here" Ek luister hoe mense kla oor hulle finansies, situasies en omstandighede, en ek weet nie altyd wat om te antwoord nie, want elkeen se omstandighede is anders. Iemand oor die naweek sê toe vir my die volgende: Daardie man loop en kla, maar hy is nog vêr van Job se situasie af. Nou ja, toe hou ek ook op met kla want ek is ook nog bitter vêr van Job af. Nou sê ek eerder, ongeag wat, nogtans sal ek jubel in die HERE, en ek dank GOD vir die voorregte wat ek nog het, soos kos op die tafel en 'n dak oor ons kop. Laat ons ophou kla terwyl ons nog met die "witbrood onder die arm" loop, terwyl ons nog in GOD se seën lewe. Miskien nie in ons lys van verwagtinge nie, maar in GOD se seëninge. ------- GEBED. VADER, dankie vir hierdie oproep tot realiteit, sodat ons kan besef dat daar ander mense is wat slegter daaraan toe is as wat ons is. Help ons asb vandag om eerdeer ons seëninge te tel as wat ons, ons tekortkominge begin tel. Dankie vir vir stukkie voorsiening uit U Hand en dankie vir ons daaglikse brood. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir harte wat dankbaar kan wees vir dit wat ons tans het. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: 0716283107
August 13, 2025
19. Jy mag die reg nie verdraai nie; jy mag nie partydig wees nie; ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want die geskenk verblind die oë van die wyse en verdraai die sake van die wat reg het. 20. Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag, dat jy kan lewe en die land in besit kan neem wat die Here jou God jou sal gee. *** Kern gedeelte: "Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag" Geregtigheid is die een onderwerp wat soos 'n goue draad regdeur die Woord van GOD geweef is. Daarom maak JESUS CHRISTUS dit vir ons duidelik wanneer Hy sê in Matthéüs 6:33. Soek eers die Koningkryk van GOD en Sy Gerergtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Al ooit die woorde gehoor wat sê, jou ongeregtigheid sal jou inhaal. Dit word met reg so gesê want elke keer as jy in ongeregtigheid beweeg moet jy weet, jy dek jou tafel van nagevolg waar jy eendag sal moet aansit. Jy mag dink dat jy daarmee weggekom het, maar weet dat die wiel draai, miskien stadig maar hy draai. Wanneer jy dit die minste verwag sal jy deur jou eie ongeregtigheid raakgery word. ------- GEBED. VADER, ons land, ons volk en ons mense gaan ten gronde as gevolg van ongeregtigheid. Maar U is 'n GOD wat nie slaap nie, en daarom vra ons dat U sal toesien dat elke daad van ongeregtigheid na sy eienaar sal terugkeer sodat elkeen met die nagevolg van sy ongeregtigheid kan deel en aansit by sy tafel van nagevolg. Maar in alles bid ons dat U Wil sal geskied, soos dit U behaag. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U Heilige Gees ons sal leer hoe om in U geregtigheid te leef. Amen. •••••••  Webtuiste://https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
August 7, 2025
6. Die Here rig die ootmoediges weer op; die goddelose mense verneder Hy tot die grond toe. 10. Hy het geen welbehae in die krag van die perd, geen welgevalle in die bene van die man nie. 11. Die Here het 'n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop. 13. Want Hy het die grendels van jou poorte sterk gemaak; Hy het jou kinders binne-in jou geseën. *** Kern gedeelte: "Die Here rig die ootmoediges weer op" Vanoggend lê die Heilige Gees hierdie woorde so duidelik op my hart, want iemand het nodig om dit te hoor! Jou uitkoms, jou krag, jou deurbraak, jou genesing lê nie in die hand van vlees nie, maar deur die krag van GOD! Ons wag soms met verwagting dat iemand ons lewe en ons situasie moet kom verander, maar as dit nie van GOD kom nie, nie deur GOD se Wil is nie, lewe jy met 'n leë verwagting, want vervloek is die man wat steun op die arm van vlees! Maar as jou verwagting op GOD is, weet dan dat jou oplossing is voor die deur, weet dat jou weg is reeds vir jou uitgelê, en weet verseker dat GOD jou nooit sal faal nie! As jy GOD dien met jou hele hart, hele siel en hele verstand, en jou hoop en verwagting is slegs op GOD staan vandag op, stap die lewe in want alles gaan uitwerk presies soos GOD dit beplan het. Moenie in vals hoop lewe of deur twyfel oorweldig word nie, maar staan op in die Krag van GOD. ------- GEBED. VADER, ons weet sonder twyfel dat U is ons Rots en ons Vesting, ons GOD op wie ons vertrou, want U het geen behae in die weë van hierdie wêreld nie, of die mens wat hardnekkig daarin bly voortleef nie. Help ons asb om noukeurig volgens, en in U weë te wandel, en laat die hoop wat hierdie wêreld bied vir ons tot niet gaan. In die Naam van ons Meester YESHUA, dank ons U vandag, vir hierdie nuwe dag waarmee U ons geseën het. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
August 6, 2025
15. Want so sê die Here Here, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie. 21. en jou ore sal 'n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan. *** Kern gedeelte: "in stil wees en vertroue bestaan julle krag" In elke situasie wil ons met alles stoei, worstel, ons eie wil afdruk en ons eie kop volg. Maar dan kom daar sekere dae wat ons opstaan en besef, ons gaan absoluut niks aan ons situasie, ons saak verander nie, net GOD gaan hierdie probleme oplos, voorsiening stuur of uitkoms gee, want in ons eie krag gaan ons niks hieraan verander nie. In pogings om dinge in ons eie krag op te los, het ons reeds 'n gemors daarvan begin maak. Eers wanneer ons dan voor GOD kom stilraak en sê, laat U Wil geskied in hierdie saak, sien ons hoe sake verander, sien ons hoe GOD se Hand begin werk in ons lewe. Hou op worstel, raak stil voor GOD en daar sal jy jou krag kry. Ons dink ons is in beheer, maar die realiteit is, dat nie eers ons volgende asemteug is gewaarborg nie, en die dag van mag dalk nooit eers aan jou gegun wees nie. ------- GEBED. VADER, dankie dat U ons vanoggend teregwys, want ons vergeet soms, dat in ons swakheid kom U Krag te voorskyn. In ons stilte kan ons U Stem hoor wat sê gaan links of regs. Laat ons vanoggend nie ingee voor die wêreld nie, maar oorgee aan U sodat U ons kan rig op ons weë. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir elkeen wat geen sekerheid het oor hulle toekoms nie, bevestig U asb hulle lewenspad. Amen. ••••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
August 5, 2025
1. Juig voor die Here, o ganse aarde! 2. Dien die Here met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel. 3. Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak, en ons is syne, sy volk en die skape van sy weide. 4. Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam. 5. Want die Here is goed; sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag. *** Kern gedeelte: "Want die Here is goed" Miskien moet jy net vanoggend stop en jou seëninge tel! Ja, ons almal het ons probleme, ons uitdagings en ons storms waardeur ons gaan, maar vanoggend lees of luister jy nog na hierdie boodskap. Dit beteken 'n paar goed: - Jy het wakker geword. - Jy lewe nog. - Jy kan sien. - Jy besit 'n toestel waarop jy hierdie kan lees! - En so gaan die lys aan oor die dinge waaroor jy vanoggend nog dankbaar kan wees. Soms moet ons net stil word voor GOD, dankbaar wees selfs in die moeilike tye, meer eenvoudig begin leef, en vir meer begin omgee as net vir onself. Soos wat jou hand oopgaan vir ander, so sal GOD se Hand ook oopgaan vir jou! Die mooi van die lewe, die Liefde van GOD word raakgesien, beleef en ervaar in 'n hart van dankbaarheid, in 'n hart vol omgee te midde van jou eie omstandighede. Verander jou gesindheid, Leef dankbaar en die son van geluk sal weer deurbreek, weer skyn in jou lewe. Die mooi van die lewe sal terugkeer, en GOD se Goedheid en Guns sal weer plek vind in jou huis. ------- GEBED. VADER, vanoggend vra ek vir niks, maar ek sê net dankie vir alles, selfs vir my probleme want dit leer my hoe om in vertroue, nader aan U te leef. Leer my asb hoe om vir meer, as net myself te leef sodat U Liefde deur my, vir ander sigbaar sal word. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir oë en 'n hart wat die goeie te midde van die slegte kan raaksien. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
August 4, 2025
7. En in dié tyd het die siener Hanáni na Asa, die koning van Juda, gekom en aan hom gesê: Omdat u op die koning van Aram gesteun en nie op die Here u God gesteun het nie, daarom het die leër van die koning van Aram uit u hand vrygeraak. 9. want die Here — sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is; hierin het u dwaas gehandel, want van nou af sal daar oorloë teen u wees. *** Kern gedeelte: "om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is" Miskien is jy vanoggend op 'n plek waar jy nie wil wees nie en miskien sien jy net storms om jou, en die lig wil nie vir jou deurbreek nie. Staan vas, alles het 'n begin en 'n einde, en wanneer die Lig deurbreek sal dit helderder wees as ooit tevore! As GOD vir my en vir jou tot hiertoe gebring het, sal GOD ons ook van hier af vorentoe deurdra. GOD het niks begin wat hy nie sal klaarmaak nie, want die Here — sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is, wie se gees standvastig in Hom gevestig is! Daarom, gaan voort, doen wat jy moet doen en los die res in GOD se hande, want juis in ons swakheid kom die krag van GOD te voorskyn. ------- GEBED. VADER, in hierdie oggend bid ons vir krag, wysheid, insig en deursettings vermoë om nie in hierdie storm op te gee nie, maar standvastig te bly in U. Om die probleme in die gesig te kyk en te verklaar dat my GOD is groter as die berg probleme voor my, want U het ons nie op die aarde geplaas om in twyfel te dwaall nie, maar om die pad wat U vir ons uitgelê het in U outoriteit waarmee U ons beklee, te wandel. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir deurbrake vir elkeen wat dit so nodig het. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
Meer Plasings